|

Govan Mbeki-raadslede skuld munisipaliteit bykans R400 000 vir hul eie water en ligte

Raadslede moet onder selfde kam as inwoners geskeer word, sê AfriForum

AfriForum se Bethal- en Trichardt-Evander-Kinross-Secunda-takke (oftewel die Teks-tak) het ’n veldtog teen die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit se dubbele standaarde aangaande die invordering van munisipale skuld van stapel gestuur. Raadslede in die Govan Mbeki-munisipaliteit, wat nie hul munisipale rekeninge betaal nie, se opgehoopte skuld aan die munisipaliteit draai net onder R400 000.

Dié AfriForum-takke het op 3 September ’n aanlyn petisie begin om die raadslede wat nie hul eie rekeninge betaal nie se skorsing te eis. Negentien raadslede is ’n reusebedrag van altesaam R384 000 in die rooi weens hul agterstallige munisipale rekeninge. Wat egter meer skokkend is, is dat slegs nege raadslede altesaam meer as R360 000 verskuldig is aan die munisipaliteit. Volgens AfriForum moet die Govan Mbeki-munisipaliteit se raadslede aan strenger – of minstens dieselfde – reëls as inwoners onderwerp word as dit by die invordering van munisipale skuld kom.

Hierdie inligting is in die munisipaliteit se kwartaallikse verslae vervat. In dié verslae word verskeie sake gemeld insluitend watter huishoudings en ondernemings se munisipale skuld nie betaal word nie en wat daaromtrent gedoen word. In die meeste gevalle word inwoners wie se rekeninge agterstallig is se elektriese dienste opgeskort. Daar word egter nie teen die Govan Mbeki-raadslede opgetree wat hulself skuldig maak aan wanbetaling nie.

Nadat AfriForum verskeie verslae onder oë gehad het, is daar vasgestel dat van die raadslede nie eers ’n rekening van tussen R1 000 en R3 000 per maand kan vereffen nie. Boonop het die rekeninge vir meer as 20 maande opgehoop, as die totale bedrae tot en met Junie 2024 in ag geneem word. Luidens dokumentasie op die Govan Mbeki-munisipaliteit se webtuiste mag raadslede nie meer as drie maande agterstallig wees met hul persoonlike munisipale rekeninge nie.

Inwoners van Emzinoni buite Bethal het in Augustus oproerig geraak en met protesaksie teen die Govan Mbeki-munisipaliteit begin. Dit volg nadat daar met invorderingsaksies teen inwoners met agterstallige munisipale rekeninge begin is, terwyl raadslede egter vrygestel word van dieselfde aksies.

“Hierdie raadslede stel glo inwoners se belange eerste maar dit is duidelik dat hulle eintlik net die soustrein so lank as moontlik wil ry – dit is onaanvaarbaar. Dis tyd dat die munisipaliteit teen die skuldige raadslede optree en voorbeelde van hulle maak,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder in Mpumalanga.

Teken AfriForum se petisie om die skuldige raadslede van die Govan Mbeki-munisipaliteit se skorsing te eis.

Inwoners word versoek om AfriForum in die Bethal- en Teks-omgewings te ondersteun: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings