|

Grootskaalse verwerping van presidensiële gesondheidsverdrag tekenend van SA se gebrek aan aptyt vir NGV – AfriForum

Die oorweldigende gebrek aan steun vir die voorgenome presidensiële gesondheidsverdrag behoort, volgens die burgerregteorganisasie AfriForum, vir die regering ’n duidelike bewys te wees dat Suid-Afrikaners nie Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) geïmplementeer wil hê nie. President Cyril Ramaphosa gaan Donderdag (22 Augustus) toesig hou oor die ondertekening van dié omstrede verdrag waarvan minstens 12 van die 16 artikels wat daarin vervat is, fokus op die implementering van NGV.

Volgens aanduidings sal slegs 13 rolspelers die verdrag onderteken – drie daarvan is boonop verteenwoordigers van die regering. Dié aantal ondertekenaars staan in skerp teenstelling met die vorige presidensiële gesondheidsverdrag wat in 2018 aangegaan is, wat deur honderde organisasies saamgestel is en waarin minimale verwysings na NGV gemaak is. Die finale gesondheidsverdrag is ontwikkel deur nie minder nie as 363 gesondheids-, verbruikers- en burgerlike organisasies, navorsingsrade, vakbonde en staatsdepartemente as deel van wat destyds bestempel is as “die grootste adviserende gesondheidsvergadering” wat nog byeengeroep is om saam te werk aan die ontwikkeling van ’n plan om die “krisis” in Suid-Afrika te herstel.  

Tydens verlede jaar se tweede presidensiële gesondheidsberaad is die verdrag weer onder die loep geneem en verskeie kere aangepas. Intussen het verskeie organisasies hulle steun daaraan onttrek – tot so ’n mate dat dit duidelik is dat die meerderheid van burgerlike organisasies, gesondheidsverenigings en besighede daarteen gekant is.

Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, voer aan dat daar nie veel oorgebly het van die doelstellings van die oorspronklike verdrag, naamlik om as ’n herstelplan vir die “krisis” in die Suid-Afrikaanse gesondheidsbedryf te dien, nie. “Die verdrag is nou geheel en al verpolitiseer om die ANC se doel vir die implementering van NGV ten alle koste te bevorder,” benadruk Boshoff. 

“Die krake in die NGV-plan is egter besig om te wys en die blote feit dat minstens 350 minder rolspelers in die bedryf met die verdrag geassosieer wil word, bevestig die feit dat die realiteit van NGV nou té onaantreklik vir die oorgrote meerderheid van mediese beroepslui, rolspelers en die publiek geword het. Die verdrag lyk nou eerder soos ’n amptelike verklaring van gebrek aan steun vir NGV,” sluit Boshoff af.

AfriForum hou steeds vol dat die implementering van NGV katastrofiese gevolge vir die reeds wankelende Suid-Afrikaanse gesondheidsbedryf sal inhou en werk derhalwe steeds aan sy regsaksie om dié destruktiewe beleid te stop.

Soortgelyke plasings