|

Bothaville se AfriForum-buurtwag help kabeldiewe vastrek

Die AfriForum-buurtwag in Bothaville het op 5 September gehelp om verdagtes vas te trek wat in besit was van vermeende gesteelde kabels. Dit volg nadat ’n skrootwerfeienaar die buurtwag ingelig het dat daar mense by sy perseel opgedaag het wat koperkabels wil verkoop, maar hulle is weggewys. Die buurtwag het ’n goeie beskrywing van die twee verdagtes gehad en het hulle kort daarna vasgetrek met die kabels in hulle besit.

Soos oral in die land, is kabeldiefstal tans ’n groot probleem in Bothaville en die omliggende gebiede. Daar word ’n beroep op die gemeenskap gedoen om wakker te wees en verdagte optrede onmiddellik aan te meld. Dit is ook broodnodig om by ’n veiligheidsnetwerk aan te sluit. Hoe meer patrollies gery kan word, hoe makliker sal die diewe vasgetrek kan word. Daar word ook ’n beroep op alle skroothandelaars  gedoen om onder geen omstandighede verdagte materiaal aan te koop nie en dadelik alarm te maak indien hulle vermoed dat gesteelde goedere aan hulle gesmous word.

“Dit is asof die kabeldiewe onverskrokke geword het, want hulle steel kabels selfs al is die krag aan. Die swak toestand waarin die kragnetwerk is, maak dit natuurlik soveel makliker. Ek is baie dankbaar vir die goeie werk wat die buurtwag in Bothaville doen en doen ’n beroep op inwoners wat nog nie lid is nie om dadelik aan te sluit want ons het elkeen se hulp nodig,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder in die Mooirivier.

Raak by Bothaville se AfriForum-buurtwag betrokke en help om jou eie veiligheid te verseker. Kontak vir Deon van Dyk by 084 588 5261.

Soortgelyke plasings