|

Mafube-saak: Uitspraak voorbehou in saak teen premier en kie

Die Hooggeregshof in Bloemfontein het vandag uitspraak voorbehou in AfriForum en die Mafube Besigheidsforum se saak teen die premier van die Vrystaat en 12 ander respondente. Dié organisasies het die hof genader omdat hulle van mening is dat die premier ’n vorige hofbevel minag.

Dít volg nadat dieselfde hof in April 2022 beslis het dat die premier verplig is om die Mafube Plaaslike Munisipaliteit nie net onder gedwonge administrasie te plaas nie, maar om ook dringend ’n finansiële herstelplan te implementeer. Verder het die hof ook beveel dat daar dadelik by die rioolinfrastruktuur tussenbeide getree moet word om die besoedeling van die Vaal- en Wilgerivier te staak. AfriForum en die Mafube Besigheidsforum is ongelukkig met die premier se gebrek aan aksie sedert die hofbevel.

“Ons gemeenskap is totaal en al keelvol vir die swak dienslewering en die haglike lewensomstandighede wat deur die onbevoegdheid van die Mafube-munisipaliteit veroorsaak is. Ons is ook bekommerd oor die gebrek aan ingryping wat tot op hede vanaf provinsiale regering geskied het. Dit is al meer as ’n jaar sedert die uitspraak wat provinsiale intervensie vereis om dienslewering te verseker,” sê Jannie Schabort, voorsitter van die Mafube Besigheidsforum.

Volgens Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir Plaaslikeregeringsake, maak die Grondwet nie voorsiening vir onbevoegdhede nie. “Die kern van hierdie hofsaak is nie net dat die munisipaliteit nie hulle pligte nakom nie. Die provinsiale regering, wat oorsig moet uitoefen oor die munisipaliteite, het nie die bevoegdheid om die situasie reg te ruk nie. Indien howe ernstig is oor die realisering van grondwetlike regte, kan dit ongelukkig nie meer in die hande van die staat oorgelaat word nie. Dit is herhaaldelik bewys,” sê Mostert.

AfriForum het op 25 Mei die hof vir die volgende bevel gevra:

  • Dat die premier van die Vrystaat skuldig bevind word aan minagting van die hof.
  • Die premier moet daadwerklike ingryping bewerkstellig om gehoor te gee aan die hofbevel van 2022.
  • Noodplanne moet onmiddellik in plek gestel word om die besoedeling van die Vaal- en Wilgerivier te stop.
  • Die premier moet aan die hof terugvoer gee oor die vordering van die ingryping.

Voeg jou stem by die klag en ondersteun die hofaansoek deur die petisie te onderteken en sodoende vir AfriForum jou mandaat te gee om die Mafube-munisipaliteit aanspreeklik te hou vir swak dienslewering.

Soortgelyke plasings