|

Heilbron-tak laat nie gras onder hulle voete groei nie

Die AfriForum-tak in Heilbron het opnuut in Maart bewys dat dit nie nodig is om dae lank aaneen te werk om ’n verskil te maak nie. Hierdie tak het elke week net een dag opsygesit om ’n verskil in dié dorp te maak. 

Die plaaslike gholfbaan het hul trekkergrassnyer vir die tak beskikbaar gestel en daarmee kon die tak die Voortrekkerterrein se gras binne die terrein én om die terrein sny. Verder het hulle ook die beddings netjies gemaak. By die Riemland-museum het die tak ook die gras gesny en onkruid verwyder. 

Die AfriForum-tak het ook in Langmarkstraat die gras langs die pad gesny, middelmanne en die straatvore skoongemaak. Die tak het weekliks skoonmaakaksies soos dié waarby gemeenskapslede betrokke kan raak. 

“Hierdie tak maak ’n reuseverskil in die dorp en dit neem hulle net een dag per week om dit reg te kry. Ons sal graag wil sien dat meer gemeenskapslede betrokke raak by hierdie aksies of deur ’n donasie aan die tak. Saam kan ons ’n verskil maak en ons dorpe netjies hou,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

“Ons het nog soortgelyke aksies wat voorlê vir die jaar en ons nooi almal uit om te kom help. Ons wil nie net ’n verskil sien nie, ons werk ook hard om die verskil te wees,” sê Gerrie Muller, voorsitter van AfriForum se Heilbron-tak. 

Kontak vir Paul Bergh by 081 354 3073 of besoek www.wordlid.co.za om betrokke te raak by jou naaste tak. 

Soortgelyke plasings