|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek sy 18de bestaansjaar gevier, maar dit beteken nie dié burgerregteorganisasie het op sy louere gerus nie. AfriForum het onder meer die stryd in die hof teen Eskom voortgesit om inligting oor die energieverskaffer se steenkool- en dieselkontrakte te bekom terwyl takke op verskeie dorpe ook met hul eie volhoubare aksies besig was.

Tydens sy verjaardagviering het dié organisasie teruggedink aan die stryd wat groot ondernemings soos Nestlé en selfs groter politieke opponente soos Julius Malema en Jacob Zuma aangesê is. Daar is ook geveg vir die behoud van Afrikaners se kulturele identiteit en taal, landwyd is veiligheidsnetwerke gevestig en vele meer. Daar was met stigting slegs drie personeellede en teen die einde van die eerste bestaansjaar 560 lede. Vandag het AfriForum 182 personeel en meer as 315 000 lede.

Jacques Broodryk (hoofwoordvoerder: Gemeenskapsveiligheid), William Waugh (hoof: Organisasiebou), Kallie Kriel (uitvoerende hoof), Linda Cronje (bestuurder: Ledevoordele) en Alana Bailey (hoof: Kultuursake)
 

Daar is verlede week in hof in AfriForum se guns beslis om inligting oor Eskom se diesel- en steenkoolkontrakte ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) te bekom. Eskom het egter hierdie week appèl teen hierdie uitspraak aangeteken, maar AfriForum meen dis bloot ’n vertragingstaktiek van die nutsmaatskappy. Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, versterk hierdie stap die burgerregteorganisasie se vermoedens dat die kontrakte ongerymdhede bevat wat Eskom geheim wil hou.

Die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit moet teen 12 April 2024 sê of hy meer as 600 inwoners gaan kwytskel van die tarief vir vullisverwydering. Bloemfontein-inwoners het al gewoond geraak aan gebrekkige of selfs geen vullisverwyderingdienste van die munisipaliteit. AfriForum lewer reeds sedert 2020 vullisverwyderingsdienste in Bloemfontein.

AfriForum se Kuruman-tak het met onlangse watermonsters vanuit Die Oog en Kurumanrivier hoë vlakke van E. Coli in die water gekry. Kuruman se rioolwerke is nie op peil nie en riool stortings in die naby geleë rivier is amper ’n weeklikse probleem. AfriForum sal die situasie aanhou monitor en druk op die plaaslike munisipaliteit uitoefen om die rioolwerke op standaard te kry.

Ook in die Noord-Kaap het die AfriForum-tak in Kathu twee sonkragligte aan die brandweer geskenk. Die brandweer se perseel is saans tydens beurtkrag stikdonker wat dit moeilik maak vir die personeel om hul pligte uit te voer.

AfriForum se Walker Drive-buurtwag in Port Elizabeth het ook die gevaar van brande identifiseer en brandtoerusting aangeskaf. Brandbestryding is een van verskeie take wat hierdie buurtwag uitvoer.

AfriForum se Bloemhof-tak het onlangs nuwe toerusting bekom en kan nou onder meer spog met ’n bloedrooi trekker. Hierdie trekker sal aangewend word om sypaadjies netjies te hou en toegegroeide velde skoon te sny om wegkruipplekke van misdadigers te verminder.

AfriForum se Bloemhof-tak het ’n trekker bekom om sypaadjies en parke skoon te hou.

Die AfriForum-produksie Die Kaplyn-musiekblyspel is vir sewe Naledi-teatertoekennings benoem. Jannes Erasmus is onder andere as beste regisseur van ’n musiekblyspel benoem en Dihan Keun as beste manlike byspeler. Die Kaplyn word vanaf 26 April tot 9 Junie 2024 in die AfriForum Teater opgevoer. Kaartjies is hier beskikbaar.

Soortgelyke plasings