|

#HerstelEnVersnel: AfriForum pak landwyd nagenoeg 200 projekte aan terwyl Suid-Afrika verkiesing hou

Terwyl politici vasgevang was in ’n verkiesingstryd en onderhandelinge vir die vestiging van ’n nuwe regering, het AfriForum se takke ’n totaal van 194 projekte aangepak om die bou, herstel en vooruitgang van dorpe en stede oor die hele Suid-Afrika heen te bewerkstellig. Dié projekte vorm deel van AfriForum se nasionale #HerstelEnVersnel-veldtog en is daarop gemik om ’n daadweklike en tasbare verskil te maak in gemeenskappe waar AfriForum-takke vanaf Musina tot Kaapstad gesetel is.  

Vrywilligers uit meer as 100 dorpe en stede het die afgelope nagenoeg drie weke 194 projekte – insluitende skoonmaakaksies, slaggatherstelwerk, opknapping van erfenisterreine, oprigting van noodwaterpunte en uitgebreide buurtwagpatrollies – onderneem. (Elkeen van dié onderskeie aksies word dorp vir dorp en buurt vir buurt in meer besonderhede in die #HerstelEnVersnel-verslag – sien hieronder – vervat.)

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die Sentraalstreek, toon die #HerstelEnVersnel-projek dat die uitkoms van die verkiesing en politieke skommelinge nie AfriForum se werksaamhede en fokus op die bevordering van gemeenskappe beïnvloed nie. “Terwyl politici klippe gekou het, het ons gewerk en gebou. En hoewel die verkiesing ’n belangrike komponent van die demokratiese proses is, werk AfriForum vir die volgende geslag en nie die volgende verkiesing nie. Ons hoop lê nie in politieke partye nie, maar veel eerder in gemeenskappe wat self verantwoordelikheid neem vir uitdagings en daadwerklik iets doen om dit te takel,” verduidelik Grobbelaar.

“Gemeenskappe het in ’n betreklike kort tyd ’n wesenlike verskil gemaak en ons sal voortgaan om selfdoenaksies te dryf in ons dorpe – met of sonder die samewerking van die politieke leiers. Daar waar ons egter met politici saamwerk, doen ons dit vir die uitbou van aksies wat tot voordeel van die gemeenskap strek,” voeg Marie Steinberg, AfriForum-streekshoof vir die Noordstreek, by.

“Met die groot hoeveelheid projekte wat die afgelope paar weke deur AfriForum-takke gedoen is, is dit duidelik dat gemeenskapskrag onderskat word. Die werklike krag lê in gemeenskappe se hande en nie in die regering soos wat baie mense dink nie,” benadruk Deon de Jager, streekshoof van AfriForum se Suidstreek.

Gemeenskappe word aangemoedig om by AfriForum aan te sluit en saam ’n verskil te maak in die herstel en versnel van opknapping in dorpe. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting. 

Soortgelyke plasings