|

#HerstelEnVersnel: AfriForum-takke verwyder meer as 2 000 sakke vullis; buurtwagte ry 16 000 km tydens patrollies

AfriForum se takke en buurtwagte het die afgelope drie weke meer as 200 projekte aangepak as deel van die organisasie se #HerstelEnVersnel-projek. Hierdie projekte is aangepak met die aanvang van die nasionale verkiesing en hiermee het AfriForum gewys dat die organisasie nie gaan terugsit en wag nie, maar dat daar daadwerklik opgetree gaan word om die verval van dorpe en stede te stuit.

Die takke en buurtwagte het skouer aan die wiel gesit en verskeie skoonmaakprojekte en ook opknappingswerk by erfenisterreine aangepak. Hulle het verder slaggate herstel, noodwaterpunte opgerig en uitgebreide patrollies onderneem.

Heelwat AfriForum-vrywilligers het ook by die verkiesing as waarnemers opgetree en verskeie opservasiepunte beman het. Verskeie gebeurlikheidsplanne is opgestel in geval van protesaksies voor en ná die verkiesing.

“Terwyl politici klippe gekou het, het ons gewerk en gebou. En hoewel die verkiesing ’n belangrike komponent van die demokratiese proses is, werk AfriForum vir die volgende geslag en nie die volgende verkiesing nie. Ons hoop lê nie in politieke partye nie, maar veel eerder in gemeenskappe wat self verantwoordelikheid neem vir uitdagings en daadwerklik iets doen om dit te takel,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir Gemeenskapstrukture vir die sentraalstreek.

Die onderskeie buurtwagte het ’n magdom patrollies gery en het ongeveer 16 250 km in hierdie tyd afgelê. Die Bronkhorstspruit-buurtwag en Middelburg-tak het ’n deel van die N4-snelweg gepatrolleer waar ysterpenlokvalle gereeld plaasvind. Die Pionier-tak in Pretoria het ook saam met die polisie en ander veiligheidsrolspelers aan ’n spesiale operasie deelgeneem om spykerlokvalle hok te slaan.

Die Delmas Valke-buurtwag van AfriForum het ses gesteelde en gekaapte voertuie teruggevind, verskeie arrestasies gemaak en boonop ook ’n verdagte in ’n moordsaak vasgetrek.

Die Swellendam-buurtwag het klopjagte saam met die polisie uitgevoer en daar is beslag gelê op 600 liter drank, dwelms en kontant. Die Matzikama-tak het saam met die polisie padblokkades gehou en tydens só ’n aksie is ’n verdagte met ’n gesteelde voertuig en ’n onwettige vuurwapen danksy die flinke optrede van die AfriForum-protospan ontwapen.

“Dit is verblydend om te sien dat buurtwaglede se toewyding nooit kwyn nie. Meer en meer mense sien dat hulle hul veiligheid in hulle eie hande moet neem en self ’n rol moet speel. AfriForum is trots daarop om aan die voorpunt van hierdie gemeenskapsgedrewe misdaadbekampingsaksies te staan,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Die buurtwagte kan ook nou misdaad nog beter voorkom nadat tien veiligheidskameras geïnstalleer is. 53 straat- of sonkragligte is ook vervang of opgerig.

Ongeveer 2 000 sakke vullis en 74 vragte rommel is tydens die takke se skoonmaakprojekte verwyder. Die Sasolburg-tak het ’n reuseskoonmaakprojek aangepak en ’n terrein van 11 495 m2 skoongemaak.

Die Bloemfontein-takke onderhou reeds vir verskeie jare die Ou Presidensie, die President Brand-begraafplaas en die monument van die oorspronklike eienaar van die plaas waarop Bloemfontein later uitgelê is, Johan Nicolaas Brits. By die Ou Presidensie is 1 223 m2 skoongemaak, by die President Brand-begraafplaas is nagenoeg 18 000 m2 skoongemaak en by Brits se monument sowat 108 m2.

Verskeie takke het padmerke weer sigbaar geverf en die Groter Moot-buurtspan het ’n verfskenking van R26 000 van Libra Measuring ontvang om padmerke voor die Waverley Plaza duidelik sigbaar te maak. Die Fochville-tak het R2 500 se verf gebruik om spoedhobbels te verf. Die Vryburg-tak het weer saam met die leerders van die CVO-skool in dié dorp klimrame by die skool geverf.

Die Upington-tak het 320 paaltjies by parke in dié dorp, asook by die waterpomphuisie geverf en beskadigde paaltjies oorgeplant.

“Gemeenskappe het in ’n betreklike kort tyd ’n wesenlike verskil gemaak en ons sal voortgaan om selfdoenprojekte in ons dorpe aan te pak – met of sonder die samewerking van die politieke leiers. Daar waar ons egter met politici saamwerk, doen ons dit vir die uitbou van projekte wat tot voordeel van die gemeenskap strek,” sê Marie Steinberg, AfriForum se hoof vir Gemeenskapstrukture in die Noordstreek.

Nuwe noodwaterpunte is onderskeidelik in Pretoria (Faerie Glen), Kathu en in Machadodorp opgerig om inwoners te help tydens watertekorte. Die Port Elizabeth-tak het tien bome by die Kinkelbos Primêre Skool geplant.

Aangesien baie dorpe se paaie gehawend is, het die takke ingespring om slaggate te herstel. Meer as 30 ton teer is gebruik om die talle slaggate te vul sodat paaie weer veilig is vir motoriste.

Die Bothaville-tak het by ’n verkeersirkel altesaam 371 m2 met 17 800 stene geplavei.

In Pongola in KwaZulu-Natal het die tak die pad op die hoek van Lucas Meyerstraat en die Karvaanparkpad verfraai.

Die Kempton Park-tak se mobiele gesondheidsentrum het gratis basiese gesondheidsdienste aan die bejaarde inwoners van aftreeoorde gelewer.

“Met die groot hoeveelheid projekte wat die afgelope paar weke deur AfriForum-takke gedoen is, is dit duidelik dat gemeenskapskrag onderskat word. Die werklike krag lê in gemeenskappe se hande en nie in die regering soos wat baie mense dink nie,” benadruk Deon de Jager, AfriForum se hoof vir Gemeenskapstrukture in die Suidstreek.

Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings