Heuningtonge wen Dink of Sink-debatskompetisie


Hoërskool Nelspruit het vanjaar koning gekraai in die senior-afdeling van die nasionale Dink of Sink-debatskompetisie en Hoërskool D.F. Malan in die junior-afdeling. Gerhard van der Merwe, Josua Matthee en Wehan Viljoen was die senior-wenspan en die junior-wenspan het bestaan uit Ila Alberts, Heinrich Crous en Neal Malan.
AfriForum het vanjaar vir die tweede maal die nasionale finaal van dié debatskompetisie aangebied. Dit is in samewerking met die media-instansies Die Burger, Volksblad, Beeld en Die GROOT ontbyt aangebied. Na drie streeksuitdunrondtes het die streekswenners naamlik Hoërskool D.F. Malan se junior- en seniorspan, C&N Oranje Sekondêre Meisieskool se junior- en seniorspan, Helpmekaar Kollege se juniorspan en Hoërskool Nelspruit se seniorspan vandag teen mekaar vir die eerste plek meegeding.
Die gesiene beoordelaarspaneel het uit adv. Gerrie Nel (hoof van AfriForum se vervolgingseenheid), dr. Theuns Eloff (oudvisekanselier van die Noordwes-Universiteit), Jo van Eeden (hoofredakteur van Netwerk 24), Werner Human (direkteur van Hurter Spies Ingelyf) en Paul Vogel (operasionele bestuurder van Akademia) bestaan.
Volgens adv. Nel is debatvoering en veral die vermoë om ander te oortuig van jou standpunt, ’n waardevolle vaardigheid wat hierdie jongmense reeds het. “Ek is beïndruk met en trots op elke leerder wat vandag hier deelgeneem het. Ons gaan hulle nog in die howe, die akademie en op politieke platforms sien.”
Dr. Eloff het voorts gesê dat die Dink of Sink-kompetisie ontsaglik belangrik vir Afrikaans is en dat daar ook baie prestige in hierdie kompetisie is.

“AfriForum wil moedertaalonderrig deur hul betrokkenheid by dié debatskompetisie bevorder. Dit is die ideale geleentheid om Afrikaans as onderrigtaal uit te bou. Debatvoering is ook ’n belangrike vaardigheid wat reeds van kindsbeen af by leerlinge gekweek moet word,” sluit Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, af.

Soortgelyke plasings