Hoë E. coli-vlak in Springs se Blesbokspruit


AfriForum het die riooluitlaat in die Blesbokspruit in Springs op 19 Oktober 2018 laat toets om die gehalte van dié dorp se rioolwater te bepaal. AfriForum se Springs-tak het SANAS-geakkrediteerde watertoetse laat doen nadat gemeenskapslede aanhoudend oor die onuithoudbare stank gekla het wat uit die Blesbokspruit opwalm.

“Ons het vasgestel dat die rioolwater nie aan die minimum vereistes voldoen nie. Die water het positief getoets vir fekale kolivormige bakterieë, E. coli, nitrate en fosfate, waarvan die konsentrasies nie binne gestelde standaarde val nie,” sê Marie Naude, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand. AfriForum het daarom op 29 Oktober 2018 ’n brief aan die stadsbestuurder van die Ekurhuleni Metroraad in Springs gerig om te eis dat die probleem binne 48 uur opgelos moet word.
“Daar moet beslis meer op rioolaanlegte gefokus word. Ons kan nie toelaat dat onbekwame munisipale beamptes ons waterbronne besoedel nie en ons beplan daarom om op te tree,” sê  Cornel Swart, voorsitter van AfriForum se Springs-tak.

Inwoners van Springs word versoek om aan AfriForum die mandaat te gee om watergehalte deurlopend te toets. SMS ‘Springs’ na 45342 (R1) om dié projek te ondersteun.

Soortgelyke plasings