| |

Hof bekragtig interdik teen Dirco se skenking van R50 miljoen aan Kuba

Die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het vandag die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) se aansoek om verlof tot appèl teen ’n interdik wat deur AfriForum bekom is van die hand gewys, wat die departement verhoed om R50 miljoen aan Kuba te skenk. Die burgerregteorganisasie het regter Neukircher se oorspronklike uitspraak verdedig en die aansoek teengestaan op grond daarvan dat die dringende interdik op ’n tydelike grondslag toegestaan is hangende die uitslag van die latere hersieningsaansoek. AfriForum het aangevoer dat daar geen rede is om ’n dringende hofbevel te appelleer nie, aangesien die regering die geleentheid sou hê om sy saak tydens die hersieningsaansoek te stel.

“Ons is bly dat die hof die interdik bekragtig het, aangesien dit eenvoudig onaanvaarbaar, irrasioneel en onwettig is vir die regering om geld te verkwis wat gebruik kan word om die magdom probleme in hierdie land op te los. Tog blyk die regering so desperaat om die broodnodige fondse aan Kuba te skenk dat dit ook aansoeke om verlof tot appèl by die Hoogste Hof van Appèl en die Konstitusionele Hof ingedien het. Vandag se uitspraak versterk egter ons optimisme dat die interdik in die hoër howe bekragtig sal word en dat ons sal slaag met ons hersieningsaansoek om die besluit om die fondse te skenk om te keer,” sê Reiner Duvenage, AfriForum se veldtogbeampte vir strategie en inhoud.

Soortgelyke plasings