|

Hof beslis in AfriForum se guns: Matriekuitslae moet bekendgemaak en gepubliseer word

Die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het AfriForum en Maroela Media vandag gelyk gegee dat dit in openbare belang is dat die matriekklas van 2021 se uitslae bekendgemaak en in die media gepubliseer word.

AfriForum, Maroela Media en Anlé Spies, het ’n dringende aansoek gebring nadat Angie Motshekga, die Minister van Basiese Onderwys, en haar departement aangekondig het dat die uitslae nie vanjaar soos voorheen aan die media beskikbaar gemaak gaan word nie.

Willie Spies en Adv. Ouintus Pelser (SC) buite die hof.

Adv. Ouintus Pelser (SC) het namens die applikante aangevoer dat die departement toegang tot ’n enorme hoeveelheid data het wat deur kundiges geïnterpreteer moet word. “Dit is noodsaaklik dat verskeie belange in die saak opgeweeg moet word. Dit kan nie aan die minister oorgelaat word om te besluit of die inligting gepubliseer mag word of nie.”

Pelser het ook geargumenteer dat die bekendmaking van die matriekuitslae ’n jarelange instelling is wat nog elke jaar goed afgeloop het. Om dit nou vir die eerste keer uit die openbare domein te wil hou, maak nie sin nie. Veral ook nie in die lig van wetgewing wat bestaan om juis van ’n geheimsinnige bedeling weg te kom nie.

Regter Anthony Millar het ook saamgestem dat dit waarskynlik nie moontlik sal wees vir die bykans een miljoen matrikulante van 2021 om hul uitslae aanlyn op die departement se webtuiste te kry nie. Vandeesweek het nog net 10 000 geregistreer. Baie matrikulante kan dit ook nie by hul skole gaan afhaal nie en indien iemand dit namens hulle doen, moet hul eksamennommer in elk geval bekendgemaak word wat die argument ten opsigte van die beskerming van persoonlik inligting afwater.

“Baie leerlinge het baie hard gewerk om uitmuntende prestasies te behaal. Dit kan nie nou sommer onder die mat ingevee word nie. Dit moet gevier word.”

Kallie Kriel

Millar het ook gemeld dat baie leerders in sekere gebiede nie toegang tot internet het nie en dat ’n koerant ’n belangrike bron is waar hulle hul uitslae kan kry.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die hofbevel is ’n oorwinning vir duisende matrikulante wat hul skoolloopbaan ná twaalf jaar afgesluit het. “Baie van hulle het baie hard gewerk om uitmuntende prestasies te behaal. Dit kan nie nou sommer onder die mat ingevee word nie. Dit moet gevier word.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Kriel meen ook dit is in belang van die land dat die uitslae vrygestel word sodat dit ontleed kan word. In die lig van meer as 80% van skole wat disfunksioneel is, is dit juis belangrik dat ontleders die inligting moet kan interpreteer ten einde aanbevelings vir die onderwysstelsel te maak.

Willie Spies van Hurter Spies Ing. verwelkom ook die uitspraak en meen die minister het korrek opgetree deur die aansoek nie teen te staan nie en haar deur die advies van regslui te laat lei.

Hy sê die uitspraak het oor veel meer gegaan as net toegang tot matriekuitslae. “Ons leef in ’n samelewing waar daar ’n wedywering van idees is. Aan die een kant gaan dit daaroor om die burgerlike samelewing sterk te maak, om ’n sterk media en ’n sterk, vrye beweging van inligting te hê teenoor ’n staatsgeforseerde ideologie wat graag dwang wil instel, ’n monopolie wil hê op grond, water, hulpbronne en mineraalregte soos reeds gebeur het. ’n Staat wat beslis ook ’n monopolie op inligting wil hê.”

Hy meen die bekendmaking van die matriekuitslae is ’n baie belangrike stuk inligting in ’n land waar onderwys een van die belangrikste portefeuljes is. Dit is krities belangrik dat inligting beskikbaar moet wees ten einde onderwys beter te bestuur en die gehalte daarvan te verbeter.

Susan Lombaard, uitvoerende direkteur van Maroela Media, binne die hof.

Susan Lombaard, uitvoerende direkteur van Maroela Media, meen ook die beslissing om die uitslae in koerante én aanlyn te publiseer, is ’n deurbraak in die stryd vir die vrye vloei van inligting. “Dit is ook van groot belang vir ons 2 miljoen lesers wat van die diens gebruik wil maak om hul uitslae te kry.”

Die minister en departement moet die regskoste op ’n ongeopponeerde grondslag betaal.

Soortgelyke plasings