|

AfriForum vestig geïntegreerde veiligheidsnetwerk in Wes-Rand

AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid het die afgelope week sy tweede veiligheidsteunkring, oftewel ’n streeksveiligheidsnetwerk, op die been gebring. Dit is die tweede van verskeie steunkringe wat vanjaar landwyd gevestig sal word. Dié steunkring is gesetel in die Wes-Rand in Gauteng en sal ’n geïntegreerde benadering tot veiligheid en samewerking oor ’n breë gebied tussen AfriForum se buurtwagte in Roodepoort, Randfontein, Krugersdorp, Fochville en Westonaria bewerkstellig.

Dié burgerregteorganisasie se eerste veiligheidsteunkring is in Januarie in die Suid-Kaap gestig.

AfriForum gaan deur die loop van die jaar nog talle soortgelyke steunkringe landwyd vestig, om sodoende hul buurtwagte meer doeltreffend op streeks- en nasionale vlak te laat funksioneer. AfriForum het tans 172 buurt- en plaaswagstrukture landwyd en die meerderheid hiervan sal uiteindelik as deel van ’n steunkring funksioneer.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid, is dit noodsaaklik vir veiligheidstrukture om grootter gebiede te kan dek omdat dit baie voordele inhou. “Steunkringe wat oor groter gebiede strek sal ons in staat stel om kriminele aktiwiteite op ’n breër gebied te bekamp. So ook kan inligting, soos dié wat met behulp van regstreekse kamera-monitering ingesamel word, wyer gedeel word en die beweging van verdagtes tussen gebiede kan veel beter gemoniteer word. Dit sal ons veiligheidstrukture ook beter in staat stel om misdaadtendense te identifiseer en te ontleed om sodoende voorkomend te kan optree,” sê Broodryk.

“Al hoe meer mense besef dat hulle self aktief ’n rol sal moet begin speel om misdaad in hul gemeenskappe hok te slaan, want die Suid-Afrikaanse Polisiediens is eenvoudig nie daartoe in staat nie. AfriForum wil dit juis so maklik en doeltreffend moontlik maak vir mense om deel te word van die oplossing en op ’n doeltreffende manier die veiligheid van hul gemeenskappe te verbeter,” sluit Broodryk af.

Sluit aan by jou naaste AfriForum-buurtwag by www.afriforumbuurtwag.co.za.

Soortgelyke plasings