| |

Aanvallers skree “Kill the Boer, kill the Farmer” voordat hulle vroulike slagoffer met spies steek

’n Egpaar van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal is erg op hul plaas aangerand terwyl hul aanvallers “Kill the Boer, kill the Farmer” geskree het. Vier aanvallers het in die vroeë oggendure van 17 Augustus hul toegang tot Tim Platt en sy vrou, Amanda, se plaashuis geforseer. Die aanvallers het toegang tot die huis verkry deur die voordeur en veiligheidshek, asook ’n venster en diefwering, af te breek.

“Ek het geskree ‘just go!’ en hy het oor die deur geleun en my gegryp … my op die arm met een of ander voorwerp geslaan toe trek hy my só hard terwyl hy skree ‘Kill the Boer, kill the Farmer’! Ek kon daarin slaag om van sy greep los te kom en het weggehardloop om die alarm te aktiveer maar tevergeefs! Hulle was genadeloos en aanhoudend – niks het hulle afgeskrik nie, nie eers die alarm nie en ook nie die feit dat ons terugbaklei het nie,” sê Amanda.

Amanda is met ’n boutsnyer en loodpype geslaan, en ook met ’n spies gesteek. Terwyl haar man nog besig was om teen die aanvallers te baklei, het sy ontsnap en gewapen teruggekeer om haar man te red. Met haar terugkeer het die aanvallers reeds gevlug.

Danksy die vinnige reaksie van die plaaslike boeregemeenskap en burgerlike veiligheidstrukture is ses verdagtes, insluitend diegene in die ontsnappingsvoertuig, aangekeer.

“Die ‘Kill the Boer, kill the Farmer’- dreunsang is niks anders nie as die aanhitsing van geweld teen ’n minderheidsgroep. Ek kan net aanvaar dat diegene wat vir ons probeer sê die liedjie is net ’n metafoor, eintlik hierdie aanvalle ondersteun,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“AfriForum het 168 buurt- en plaaswagte landwyd met sowat 11 000 opgeleide vrywilligers. Ons sal voortgaan om hierdie veiligheidsnetwerke uit te brei en om meer vrywilligers op te lei om terug te veg teen hierdie plaag van lafhartige aanvalle. Ek loof mev. Platt vir haar dapperheid,” sluit Broodryk af.

AfriForum sal op 4 September in die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein verskyn om te appelleer teen die Gelykheidshof se beslissing dat die “Kill the Boer”-dreunsang nie haatspraak is nie.

Soortgelyke plasings