|

Inskrywings vir Aitsa-toekennings nou oop

Vanjaar se Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings word op 19 September gehou en val saam met Pretoria FM, wat dié toekennings aanbied, se 30ste verjaardagviering. Inskrywings vir die gesogte toekennings open vandag en die toekenningsaand word weer by die Choose Life-ouditorium in Moreletapark, Pretoria, aangebied.

Die eerste Aitsa’s is in 2019 toegeken en het intussen ’n hoogtepunt op die jaarlikse kalender geword. Daar is 12 kategorieë waarin liriekskrywers, kunstenaars en vervaardigers meeding vir die spogtrofeë wat op die spel is. Elke kategoriewenner sal ook met R10 000 by die geleentheid wegstap.

“Ons gaan voortbou op die vorige jare se suksesresep om die kompetisie oor ’n tydperk van 12 weke op die radio uit te saai en die publiek sal weereens die geleentheid kry om vir hul gunstelingkunstenaar te stem in ’n kategorie wat spesiaal geskep word vir ‘Die Kunstenaar van die jaar – volgens publieke stem’,” sê Willie Spies, die voorsitter van die Aitsa Trust.

Van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf insluitend Jo Black, Demi Lee Moore en Corlea Botha het verlede jaar toekennings ontvang. ’n Legende in die Afrikaanse musiekbedryf word ook jaarliks met ’n spesiale toekenning vereer vir hul lewenslange bydrae. Mimi Coertse het in 2022 hierdie gesogte toekenning ontvang in dieselfde jaar as wat sy haar 90ste verjaardag gevier het.

Mimi Coertse het verlede jaar ’n spesiale toekenning by die Aitsa’s ontvang.

Verdere toekennings word ook gemaak aan die suksesvolste Afrikaanse snitte van die jaar vir onderskeidelik manlike en vroulike kunstenaars op stromingsdienste insluitend Spotify, YouTube en Apple Music/iTunes. Kunstenaars kan self of deur hul platemaatskappy vir die onderskeie kategorieë inskryf. Finaliste sal weekliks tydens ’n spesiale Aitsa-program bekend gemaak word.

’n Paneel onafhanklike kundiges uit die musiekbedryf en -media sal inskrywings beoordeel met ’n maksimum van ses finaliste wat vir elke kategorie aangewys word.

Pretoria FM vier sy verjaardag van 16 tot 19 September met die Aitsa-toekenningsgeleentheid wat die feesvieringe sal afsluit. Kaartjies vir dié spogaand is reeds op iTickets beskikbaar teen R250 per persoon.

Inskrywingsvorms met die volledige kriteria is op Pretoria FM se webblad www.pretoriafm.co.za beskikbaar. Alle nuwe uitreikings vir 1 April 2022 tot 31 Maart 2023 mag ingeskryf word. Inskrywings sluit om middernag op 26 Mei 2023.

Die kategorieë is soos volg:

  1. Nuweling van die Jaar
  2. Liedjieskrywer van die Jaar
  3. Geestelike Liedjie van die Jaar
  4. Alternatiewe/Rock Liedjie van die Jaar
  5. Luisterliedjie van die Jaar
  6. Boeremusiek Liedjie van die Jaar
  7. Musiekvideo van die Jaar
  8. Pop Liedjie van die Jaar
  9. Vervaardiger van die Jaar
  10. Instrumentale Liedjie van die Jaar
  11. Afrikaanse Liedjie van die Jaar
  12. Kunstenaar van die Jaar – volgens publieke stem

Soortgelyke plasings