|

Teenboelieveldtogspan besoek skole in die Weskus

AfriForum se Weskus-tak en teenboelieveldtogspan het op 17 April skole in Langebaan en Hopefield besoek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

Ses skole is besoek waaronder Curro Langebaan, Langebaan Primêre Skool, Longacres Privaatskool, Weskus Skool in Saldanha, Laerskool Vredenburg en Hoërskool Hopefield.

Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder van Jeugleierskap, en Tania Scheepers, projekassistent van Jeugleierskap, het die leerders van die gevare van boeliegedrag vertel en hulle met die nodige kennis en vaardighede toegerus om as ’n leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind – om boeliebestand te wees.  Hierdie inligtingsessies is baie insiggewend veral omdat jong mense maklik en onwetend by verkeerde dinge betrokke kan raak. Leerders is aangemoedig om vroegtydig hulp te soek en iemand wat hulle vertrou van hul ervarings te vertel. 

Die laerskole het die praatjie saam met die gelukbringer, Matteus, geniet en was opgewonde om die die wapenrusting van God aan te trek, terwyl hoërskoolleerders na #DieValFilm gekyk het wat fokus op hedendaagse uitdagings. Die gevare rakende kuberafknouery en tegnologie wat tegelykertyd ’n mens se beste vriend en vyand  kan wees is ook bespreek.

“Ons is baie bly om die teenboeliepraatjies by skole in die Weskus te kon aanbied, en het  baie goeie terugvoer ontvang,” sê Sidney Monk, voorsitter van die Weskus-tak.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by soortgelyke projekte betrokke te raak en sodoende ’n daadwerklike verskil te maak. Klik hier vir meer inligting.

Soortgelyke plasings