Skool, onderrig

AfriForum versoek dat Onderwyswetsontwerp dadelik teruggetrek word in die lig van Lesufi se jongste uitlatings

In aansluiting by die kommentaar wat AfriForum op die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-konsepwet) ingedien het, versoek dié burgerregteorganisasie die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, om die konsepwet so gou as moontlik terug te trek. Dit volg in die lig van die jongste uitlatings van die Gautengse LUR vir Onderwys, Panyaza Lesufi. Tydens ’n sitting van die Gautengse wetgewer gister (21 Junie 2022), het hy dit na bewering duidelik gemaak dat die konsepwet nie verbeterde onderwys ten doel het nie, maar eerder ’n sleutel tot die finale vernietiging van Afrikaanse skole is.

In AfriForum se kommentaar op die konsepwet, is duidelik uiteengesit dat van die voorgestelde wysigings daarin, veral dié wat met die besluitnemingsmagte oor skole se toelatings- en taalbeleid te make het, ongrondwetlik is en Afrikaanse moedertaalonderrig bedreig. Verder is beklemtoon dat indien hierdie wysigings geïmplementeer word, dit op ’n onherstelbare, eensydige en permanente verbreking van die grondwetlike skikking van 1994 deur die ANC-regering sal neerkom.

Tans berus die besluitnemingsmagte heroor by demokraties verkose ouerbeheerliggame. Die Konstitusionele Hof het in verskeie uitsprake beklemtoon dat dit in lyn met die bepalings van die Grondwet is en dus die beste wyse is waarop hierdie beleide vasgestel kan word. Die konsepwet se voorstel is egter dat die finale besluitnemingsmag by die provinsiale onderwyshoofde moet berus.

Volgens ’n mediaverklaring van die Vryheidsfront Plus wat gister na afloop van die sitting van die Gautengse wetgewer uitgereik is, het Lesufi daar verklaar dat hy die BELA-wet sal gebruik om alle enkel- en parallelmedium Afrikaanse skole te transformeer tot skole waar ten minste drie verskillende tale gelyktydig as onderrigmediums gebruik sal word.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, noem dat internasionale navorsing al by herhaling bewys het dat dubbel- en parallelmedium onderriginstellings uiteindelik verander in eentalige instellings waar die sterkste taal (Engels in die geval van Suid-Afrika) oorheers. “Hierdie feit is ook al deur die openbare universiteite in die land se taaltransformasie bewys. Lesufi wil nou dieselfde proses met skole voltrek en gebruik die raskaart om sy haat vir die Afrikaanse gemeenskap te probeer verbloem. Hy ignoreer gerieflikheidshalwe die feit dat Afrikaans die moedertaal van mense van alle rasse is,” sê sy.

Bailey onderstreep dat wetgewing nie geskep mag word om politici se vendettas teen gemeenskappe in die land te wettig nie. “Nie alleen gaan dit die staat en belastingbetalers duur kos wanneer sodanige wetgewing in howe teengestaan word nie, maar selfs ’n duurder prys gaan deur die jeug betaal word indien skole onder hierdie ideologiese magspel moet deurloop. In die lig van die vraagtekens oor die werklike bedoeling met die konsepwet en die reuse-reaksie wat die skriftelike openbare kommentaarproses daarop pas tot gevolg gehad het, doen AfriForum dus ’n dringende beroep op die minister om die BELA-konsepwet te herroep,” voeg Bailey by.

Soortgelyke plasings