|

Keimoes-tak plant bome by kliniek

AfriForum se Keimoes-tak het op 29 September vyf witkareebome en drie ebbehoutbome by die kliniek in dié dorp geplant. Dié tak het reeds verlede jaar begin om die kliniek se perseel met plante te verfraai deur vyf kareebome, 30 Karoo-aalwyne en 15 skoonma-se-tong plante daar te plant.

Suster Elsabé Neethling en die ander personeel by die kliniek versorg die tuin goed en daarom het Meisie Pool, voorsitter van die Keimoes-tak en Dirk Malan, omgewingsakebeampte by die Keimoes-tak, besluit dat die tak in die toekoms die tuin verder sal uitbrei.

“Almal was so entoesiasties en het ywerig saam geplant aan die plante en bome. Ons poog om elke jaar bome te plant en sodoende ook te help om die natuur te beskerm,” sê Pool.

“Deur inheemse bome te plant bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsels of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Keimoes onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen Strauss

Die tak moedig die gemeenskap aan om deurgaans inheemse bome in hul dorp te plant en deel te wees van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings