|

AfriForum-traumavrywilligers word prakties opgelei om by plaasaanvalle hulp te bied

AfriForum se traumaeenheid get 42 vrywilligers gewerf en opgelei om slagoffers van plaasaanvalle en geweldsmisdaad op die toneel by te staan. Weens die toename in hierdie tipe misdade in die landelike gebiede, het die behoefte aan traumaondersteuning op die tonele toegeneem. Izel Kruger en Hennie Human, traumaberaders van AfriForum se traumaeenheid, het traumavrywiligers in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Noordwes met die nodige kennis en vaardighede opgelei.

Die opleiding het op 13 Augustus in Bloemfontein afgeskop. Twaalf vrywilligers van die Bultfontein-, Bethlehem- en Bloemfontein-buurtwagte het by die NG Kerk Gardenia bymekaargekom vir praktiese opleiding.

Die opleiding rus vrywilligers toe om slagoffers van plaasaanvalle op die toneel, emosioneel te ondersteun asook te bemagtig en in hul onmiddellike behoeftes te voorsien. Praktiese tonele is vir kursusgangers geskep om hul vaardighede op die toneel op te skerp.  

Hierdie opleiding is op 3 September by die Gereformeerde Kerk Potchefstroom voortgesit waar ook 12 vrywilligers van Potchefstroom, Stilfontein, Orkney, Zeerust, Hartebeesfontein en Ventersburg in die fyner tegnieke van traumaondersteuning touwys gemaak is.

Die traumaeenheid het die opleiding op 17 September by die Boereverenigingsaal in Vryheid afgesluit waar 18 vrywilligers van Newcastle, Dundee, Paulpietersburg, Utrecht, Pongola en Vryheid opleiding ontvang het.

“Ná hierdie opleiding is vrywilligers in die noorde van KwaZulu-Natal goed opgelei om slagofferondersteuning in hul gemeenskappe te bied.  Hierdie is ’n waardevolle toevoeging vir gemeenskapsveiligheid en ons hoop dit kan nog verder uitgebrei word,” sê Eugene van Aswegen, distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

AfriForum se traumaeenheid moedig buurtwagte en takke aan om deurgaans vrywilligers vir die eenheid te werf om sodoende die eenheid se vermoë om slagoffers tydens plaasaanvalle te ondersteun te versterk.

Soortgelyke plasings