|

AfriForum se Worcester-tak plant bome by Hexpark Primêre Skool

Die AfriForum-tak in Worcester het in September 10 bome geskenk en geplant by Hexpark Primêre Skool nadat dié skool ’n inkleurkompetisie gewen het. Verskeie laerskole se graad 1-leerders het aan dié kompetisie deelgeneem en die wenners is op Facebook deur die publiek aangewys.

Die skole het meegeding om 10 witstinkhoutbome met 10 sakke kompos te wen, asook McDonald’s Happy Meals as ’n verdere bederf vir die deelnemers. Bianca Venter, voorsitter van Omgewingsake by die Worcester-tak, het met die goeie idee vorendag gekom. Potjie Geplant Kwekery en McDonald’s het onderskeidelik die bome en die maaltye spesiaal vir dié projek teen ’n laer tarief aan die AfriForum-tak verskaf.

“AfriForum se Worcester-tak het hierdie jaar buite die boks gedink in Boomplantmaand. Die kinders het dit baie geniet om in te kleur en meer van bome te leer, en die ouers het dit ook geniet om na die kunswerke te kyk. Ons wil graag al die skole wat deelgeneem het en elkeen wat met die projek gehelp het bedank vir hul bydrae, asook vir Potjie Geplant Kwekery en McDonald’s,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum se Worcester-tak betrokke te raak en aktief te wees in hul gemeenskap. Besoek www.wordlid.co.za of stuur ’n e-pos na voorsitter.worcester@afriforumtak.co.za

Soortgelyke plasings