|

Kempton Park-tak maak skenking aan Elim Clinic

AfriForum se Kempton Park-tak het op 11 Augustus 70 stelle bedlinne aan die Elim Clinic geskenk. Elim Clinic is ’n professionele rehabilitasiesentrum wat binnepasiënt-behandeling bied aan mans en vroue van 18 jaar en ouer wat aan dwelmverslawing en/of gedragsversteurings ly. Die Kempton Park-tak is reeds sedert 2020 by die kliniek betrokke.

Dwelmverslawing is ’n komplekse sosiale en gesondheidskwessie wat aktiewe betrokkenheid van staatsinstellings, maatskaplike organisasies en die samelewing as ’n geheel vereis. Daar is nie ’n eenvoudige oplossing nie, maar die impak op die lewens van individue, gesinne en gemeenskappe kan verlig word deur die gemeenskap bewus te maak van die uitdagings, hulle daaroor op te voed en toegang tot noodsaaklike behandeling te verbeter.

“Elim is ’n gerekende en ervare instansie in die gemeenskap wat die bekamping van dwelmverslawing betref en dit is vir die tak ’n voorreg om die kliniek in hierdie uitdagende tye te kan help. Dit is belangrik dat die mense in die sentrum gemaklik voel wanneer hulle behandeling ontvang, daarom het ons besluit om bedlinne te skenk,” sê Veruska Brits, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak.

“Alhoewel die kliniek uiters belangrike werk verrig, ontvang hulle geen fondse van die staat nie, daarom is dit vir ons tak belangrik om hulle te ondersteun. Elim behandel baie kwesbare individue en daarom is ek bly dat ons kon help. Ons bou voort op die goeie samewerking tussen ons organisasies deur mekaar te ondersteun,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Raak vandag nog by AfriForum se Kempton Park-tak betrokke en maak ’n verskil. Kontak Jurie Ferreira by 081 217 8579.

Soortgelyke plasings