Rede vir vyf jaar hernuwingstydperk glo as gevolg van materiaal van bestuurslisensiekaarte

Die aanvanklike rede vir die hernuwing van bestuurslisensiekaarte is glo omdat die materiaal waarvan die lisensiekaarte vervaardig is nie langer as vyf jaar sou hou nie. Dít blyk uit die hofrekord wat Fikile Mbalula, minister van Vervoer, in AfriForum se hofsaak liasseer het. Verdere redes om die hernuwingstydperk te motiveer is ook skraps. Dit volg nadat  die burgerregteorganisasie AfriForum vroeër vanjaar regstappe teen die vyf jaar hernuwingstydperk van bestuurslisensiekaarte geneem het. Die organisasie voer aan dat daar onvoldoende wetgewing is om hierdie vereiste voor te skryf.

Dit blyk nou ook dat Mbalula, vanweë die openbare druk op die Departement van Vervoer, tog oorweeg om die hernuwingstydperk van bestuurslisensiekaarte van vyf jaar na tien jaar te verleng. Mbalula het onlangs self erken dat die wetgewing dit nie baie duidelik maak dat die bestuurlisensiekaarte elke vyf jaar hernu moet word nie. Hy het egter in ’n onderhoud waartydens hy hierdie stelling gemaak het na die verkeerde wetgewing verwys. Mbalula het beweer dat dit die Nasionale Padvervoerwet is wat die hernuwingstydperk bepaal terwyl dit die Nasionale Padverkeerswet is wat eintlik die hernuwingstydperk bepaal. AfriForum se argumente wys egter daarop dat bestuurderslisensies permanent geldig is volgens die Nasionale Padverkeerswet.

Ondanks die departement se skynbare voorneme om die hernuwingstydperk van bestuurslisensiekaarte na tien jaar te verleng, gaan AfriForum met sy regstappe voort. AfriForum se regsaksie het ten doel om ’n hofbevel te bekom wat stel dat die wetgewing wat voorgee om die vyf jaar hernuwingstydperk van bestuurslisensiekaarte voor te skryf onredelik, arbitrêr en vaag is, asook dat motoriste nie gestraf mag word indien hulle met vervalde bestuurslisensiekaarte ry nie. AfriForum versoek dus van die hof dat die hernuwingstydperk van bestuurslisensiekaarte hersien en geskrap moet word. 

“AfriForum se regstappe gaan ’n sleutelrol speel om ’n einde aan die vyf jaar hernuwingstydperk van bestuurslisensiekaarte te bring, aangesien die regering nie bekend is daarvoor dat hy sy beloftes nakom nie. Dit is uiters bemoedigend vir AfriForum se hofsaak dat die minister self erken dat die wetgewing onduidelik is oor die hernuwingstydperk van bestuurslisensiekaarte. Daarby wys die hofrekord dat dit geheel en al ’n onvoldoende en irrasionele verduideliking is om die vyf jaar hernuwingstydperk voor te skryf bloot omdat die materiaal van die bestuurslisensiekaarte na bewering nie langer kan hou nie,” sê Reiner Duvenage veldtogbeampte vir Strategie en Inhoud by AfriForum.

Soortgelyke plasings