|

SAAK TEEN OUERS VAN MISHANDELDE BABA NA HOOGGEREGSHOF OORGEPLAAS

Die saak teen twee ouers wat in hegtenis geneem is op klagtes van kindermishandeling, is vandag in die Pretoriase Landdroshof na die Noord-Gautengse Hooggeregshof oorgeplaas weens die erns van die saak. Die ouers van die baba, wat nou agt maande oud is, is in Augustus vanjaar in hegtenis geneem nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Julie dokters en ’n maatskaplike werker bygestaan het om strafregtelike klagtes in te dien. Die baba is tans in veilige bewaring. Die verhoor sal op 19 Julie 2021 begin.

Die babadogtertjie is in Julie in ’n hospitaal in Pretoria opgeneem met verskeie beenbreuke (wat volgens dokters op verskillende tye plaasgevind het) en beserings wat strook met kindermishandeling. Sy is voor dit ook in April 2020 (toe sy vyf weke oud was) by dieselfde hospitaal opgeneem, ook met beserings wat strook met kindermishandeling. Haar dokters en ’n privaat maatskaplike werker het toe ’n saak by die polisie en Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aangemeld en aanbeveel dat die baba uit haar ouers se sorg verwyder word. Die saak teen die ouers is egter van die rol geskrap omdat daar volgens die landdros ’n gebrek aan bewyse was. Die baba was tydelik in haar ouma se sorg geplaas, maar daarna is sy terug na haar ouers.

Volgens Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is die oorplasing ’n positiewe wending, aangesien dit blyk dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nou daadwerklike stappe neem ten einde te verseker dat die saak nou die nodige aandag geniet. “Dit is egter betreurenswaardig dat die stelsel hierdie weerlose kind in die eerste plek in die steek gelaat het en vroeër vanjaar toegelaat het dat sy teruggeplaas word in ’n lewensbedreigende omgewing. Die privaatvervolgingseenheid sal die saak bly moniteer om seker te maak dat die baba die nodige beskerming kry en dat geregtigheid geskied.”

AfriForum ondersteun die 16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders, wat môre begin. Die burgerregteorganisasie beplan verskeie aksies in hierdie verband en die privaatvervolgingseenheid sal voortgaan om in belang van vrouens en kinders op te tree waar die strafregstelsel hulle versaak het.

Lees vorige mediaverklarings oor dié kwessie hier:

Soortgelyke plasings