| |

Klerksdorp-tak en ander beswaarmakers stuit ontwikkeling op Palmietfontein

AfriForum se Klerksdorp-tak en talle ander beswaarmakers is verlig dat toenemende druk ’n ontwikkelaar genoop het om sy aansoek om erwe op die plaas Palmietfontein 403 te ontwikkel, te onttrek.

Dit volg nadat AfriForum se Klerksdorp-tak op 30 Junie namens inwoners en taklede ’n beswaarskrif by die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit ingedien het. Die beswaarskrif is ingedien nadat dit aan die lig gekom het dat ’n aansoekkennisgewing aangebring is om 4 702 erwe op gedeeltes van die plaas Palmietfontein 403, wat aan Doringkruin grens, te ontwikkel.

“Baie areas in Suid Afrika gaan net soos Klerksdorp onder uiters swak munisipale dienslewering gebuk. Een van die redes hiervoor is grootskaalse ontwikkeling sonder dat die nodige munisipale dienste in plek is. AfriForum sal aanhou veg om te verseker dat die regte prosesse gevolg word en dat die nodige dienste beskikbaar gemaak word voordat ontwikkelings soos dié plaasvind. Ons het ook uitgevind dat geen omgewingsimpakstudie vir hierdie ontwikkeling goedgekeur is nie en dat die beplande ontwikkeling nie belyn is met Klerksdorp se ruimtelike ontwikkelingsraamwerk nie,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir plaaslikeregeringsake.

“Ek doen ’n beroep op inwoners om waaksaam te bly en betyds op te tree indien enige kennisgewing hul regte in gedrang kan bring. Openbare deelname is ’n wetlike vereiste in munisipale prosesse, en dit is noodsaaklik dat inwoners hul regte dienooreenkomstig uitoefen,” sê Frans Roos, die voorsitter van die Klerksdorp-tak.

“Die ontwikkeling op die plaas Palmietfontein 403 sou sosiale behuising, winkelsentrums en opvoedingsinstellings ingesluit het. Indien daar aan alle wetlike aspekte en behoorlike openbare deelname voldoen word, is AfriForum nie teen ontwikkeling en dorpstigting gekant nie. In dié geval is daar verskeie aspekte wat nie behoorlik in die aansoek in ag geneem is nie. Dit is ook van uiterste belang dat dienste soos water, krag en riolering beskikbaar moet wees voordat ontwikkeling plaasvind omdat die munisipaliteit reeds baie probleme met hierdie munisipale dienste ondervind,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Word deel van die oplossing. Kontak Frans Roos by 083 378 8826.

Soortgelyke plasings