Eerste deel van AfriForum se hofstryd teen lisensiehernuwingstydperk afgehandel

Die burgerregteorganisasie AfriForum was vandag in die Hooggeregshof in Pretoria vir die tweede en laaste dag van die organisasie se hofstryd teen die vyfjaar-hernuwingstydperk vir bestuurslisensies, wat soveel wanfunksionering veroorsaak.

Hierdie saak vind plaas binne die konteks van die regering se een en enigste lisensiekaartdrukmasjien wat weer, vir die tweede keer in minder as ’n jaar, gebreek het en weereens groot vertragings in die druk van lisensiekaarte veroorsaak het.

AfriForum het geëis dat die hof onder meer ’n verklarende bevel uitreik wat bepaal dat die vyfjaar-geldigheidstydperk van bestuurslisensies ongrondwetlik is en dat alle boetes wat uitgereik word vir lisensies wat verval het, ongrondwetlik is.

Volgens Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, het AfriForum die afgelope twee dae in die hof gedemonstreer hoe sterk hul saak is.

“AfriForum se regspan het groot gebreke en teenstrydighede in die Nasionale Padverkeerswet en regulasies in die hof ontbloot. Die wetgewing stel byvoorbeeld nie uitdruklik dat motoriste by verstryking van hul lisensiekaarte vir nuwes moet aansoek doen nie,” sluit Van Zyl af.

Uitspraak is voorbehou.

Lede van die publiek kan hul ondersteuning vir hierdie saak wys by www.lisensiesvervalnie.co.za.

Soortgelyke plasings