|

Klerksdorp-tak help inwoners beswaar aanteken teen nuwe ontwikkeling op Palmietfontein

AfriForum se Klerksdorp-tak het op 30 Junie beswaar namens inwoners en taklede by die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit ingedien nadat dit aan die lig gekom het dat ’n aansoekkennisgewing om 4 702 erwe op gedeeltes van die plaas Palmietfontein 403 – wat aan Doringkruin grens – te ontwikkel, aangebring is.

AfriForum is in wese nie teen ontwikkeling en dorpstigting gekant nie, mits daar aan alle wetlike aspekte en behoorlike openbare deelname voldoen word. In dié geval is daar verskeie aspekte wat nie behoorlik in die aansoek in ag geneem is nie.

Inwoners – en meer spesifiek die inwoners van Doringkruin – is nie behoorlik in kennis gestel van die voorgenome dorpstigting nie. Die kennisgewings op die terrein voldoen ook nie aan die voorgeskrewe vereistes nie. Hierdie kennisgewings is teen die grensdrade, wat aan die Matlosana-winkelsentrum grens, aangebring en is te klein om sigbaar van die pad te wees. Dié kennisgewings is ook ontoeganklik, aangesien motoriste nie op die pad mag stilhou nie.

“Hierdie vyf A4-grootte kennisgewings (in twee tale) vir so ’n groot area is onvoldoende en kan onmoontlik almal bereik. Dit is nodig om ’n terreinkennisgewing op elke straatfront te plaas om die aandag daarop te vestig en sigbaarheid te verhoog. Die plasings skep tans die indruk van verswyging, wat openbare deelname belemmer. Dit is belangrik om ’n kennisgewing só te plaas dat die hele gemeenskap bewus is van die voorgestelde dorpstigting,” sê Frans Roos, voorsitter van AfriForum se Klerksdorp-tak.

Die tak het die kennisgewing op 28 Junie, nadat die kennisgewing oor die voorgenome dorpstigting aan die lig gekom het, op sosiale media begin versprei. Ongeveer 1 700 inwoners het intussen op verskeie wyses beswaar daarteen aangeteken.

Die betrokke area vorm deel van ’n wateropvanggebied wat in die Schoonspruit en daarna in die Vaalrivier vloei. Gedeeltes van Palmietfontein is ’n vleiland en daar is talle kameeldoringbome. Die kameeldoringboom (Acacia erioloba) word onder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur 107 van 1998 in Suid-Afrika beskerm. Hierdie is een van die grootste oorblywende kameeldoringboomwoude in die area en is daarom ’n ekologies sensitiewe gebied. Konstruksie kan tot die verlies van die vleilandhabitat lei. Padkonstruksie kan ook die natuurlike hidrologie van die vleiland verander, wat weer tot veranderinge in watervlakke en vloeipatrone sal lei en gevolglik ’n negatiewe impak op plantegroei en wild sal hê.

“Dié voorgenome dorpstigting het ook geen skedule wat na die gebruiksregte, behalwe vir residensiële gebruiksregte, in die aansoek verwys nie. Daar is byvoorbeeld nie vir skole in die aansoek voorsiening gemaak nie. Daar is wel gemeld dat die ontwikkeling by die bestaande dienstestrukture ten opsigte van stormwater, riool, water en elektrisiteit aangesluit gaan word; dít terwyl dié dienste reeds onvoldoende is. Inwoners moet bedag wees en proaktief optree om enige kennisgewing wat hulle regte in gedrang bring teen te staan. Openbare deelname is ’n wetlike vereiste in munisipale prosesse,” sluit Roos af.

“Hierdie is net weereens ’n bewys dat die munisipaliteit kortpaaie neem om ontwikkelings deur te druk sonder dat behoorlike openbaredeelnameprosesse gevolg is. Ek doen ’n beroep op inwoners om bedag te wees op sulke kennisgewings en dit aan die groot klok te hang sodat die gemeenskap hulle stem kan laat hoor voordat dit te laat is,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Word deel van die oplossing en sluit vandag nog by AfriForum se Klerksdorp-tak aan: Skakel Frans Roos by 083 378 8826.

Soortgelyke plasings