| |

SENIOR NVG-AMPTENAAR WAT VAN RASSISME BESKULDIG WORD, GESKORS NÁ DRUK DEUR PRIVAATVERVOLGINGSEENHEID

Pumeza Futshane, hoofaanklaer by die Johannesburgse Landdroshof, is verlede week uit die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geskors hangende dissiplinêre stappe teen haar ná onder meer aantygings van nepotisme en begunstiging. AfriForum se privaatvervolgingseenheid dring sedert 2019 daarop aan dat ’n ondersoek na dié bewerings teen Futshane gedoen word.

Futshane is getroud met Andrew Chauke, die Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging (DOV), wat beteken dat sy direk aan haar man rapporteer. Aanklaers wat in die Johannesburgse Landdroshof werksaam was, het gevoel dat Futshane sowel haar as haar man se magsposisies misbruik het om haar kollegas te intimideer en verkleineer.

’n Aanklaer wat onder Futshane gewerk het, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid meer as ’n jaar gelede gekontak en beweer dat Futshane xenofobiese en rassistiese uitlatings op ’n WhatsApp-groep vir aanklaers gemaak het. Die aanklaer het die eenheid genader omdat daar glad nie teen Futshane opgetree is nie – ten spyte van die klagtes wat reeds in Oktober 2019 onder die aandag van die nasionale direkteur van openbare vervolging gebring is. In dié tydperk het Chauke egter teen aanklaers opgetree ná klagtes wat Futshane teen hulle gebring het. Sommige van dié aanklaers is selfs verplaas.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, meen dat AfriForum se voortdurende druk en monitering van die NVG se optrede tot die formele ondersoek teen Futshane gelei het.

“AfriForum se privaatvervolgingseenheid het aangehou om druk op die hoogste kantoor in die NVG toe te pas om te verseker dat die klagtes teen Futshane ondersoek word. Elke aanklaer in die vervolgingsgesag is veronderstel om hul pligte sonder vrees, begunstiging of vooroordeel uit te oefen. Ons kon nie toelaat dat die gebrek aan optrede teen Futshane die indruk skep dat sommige persone meer gelyk is as ander nie,” sê adv. Nel.

Soortgelyke plasings