|

Kyk: AfriForum takke gebruik 134 ton teer tydens slaggatprojek

AfriForum se takke het gedurende Junie deelgeneem aan die organisasie se nasionale slaggatprojek om hul onderskeie dorpe se paaie en motoriste se veiligheid te verbeter. Altesaam 134 ton teer (5 341 sakke) is tydens die projek gebruik om slaggate te herstel en te vul. AfriForum-takke het meer as R750 000 bestee tydens hierdie projek.

Die Vryheid- en Paulpietersburg-tak het die meeste teer (800 sakke) gebruik wat aangewend is om slaggate op die R33 tussen dié twee dorpe te herstel. Hierdie takke het die projek saam met die Kambula-boerevereniging en eDumbe Agri Centre aangepak om gate wat lewensgevaarlik was, te herstel.

Volgens Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal (KZN), is die R33 een van die hoofroetes na KZN vanaf die noorde en die slaggate op die pad het veroorsaak dat toerisme en die ekonomie negatief beïnvloed is.

“Die pad word ook daagliks gebruik om kinders skool toe en terug te vervoer en ons hoop hierdie projek het die padgebruikers se veiligheid verbeter.”

Waarskuwingsborde is ook opgerig by dele van dié pad waar die padoppervlak steeds sleg is.

AfriForum se Vanderbijlpark-tak het 600 sakke teer gebruik om die paaie te verbeter. “Die tak het saam met die gemeenskap aan hierdie projek gewerk aangesien die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit faal in hul dienslewering aan die gemeenskap. Ons ervaar ook erge rioolprobleme, heelwat waterlekke en parke wat nie skoongemaak word nie. Deur slaggate te herstel en parke skoon te maak, help die tak om hierdie rol van die munisipaliteit te vul,” sê Stephanus Blignaut, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand en Vaaldriehoek.

In Potchefstroom begroot dié AfriForum-tak elke maand om slaggate te herstel en hulle het ook aan die nasionale slaggatprojek deelgeneem omdat dit lewensgevaarlik is vir motoriste om deur die slaggate te ry, sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die Potchefstroom-tak het 344 sakke teer gebruik om die paaie se toestand te verbeter. Die tak het al vir geruime tyd verantwoordelikheid geneem vir sekere besige strate wat voortdurend reggemaak moet word omdat die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit nie die paaie onderhou nie.

“Indien gemeenskapslede of sakeondernemings donasies wil maak of teer wil skenk wat ons kan gebruik om die paaie te verbeter, sal dit baie waardeer word,” sê Pretorius.

Ander takke wat 200 sakke of meer teer tydens die projek gebruik het, is Lichtenburg (200 sakke), Bethal (200 sakke), die Noord van die berg-tak in Pretoria (210 sakke) en Benoni (340 sakke). Heelwat takke sit ook hulle goeie werk voort en gaan in Julie verder slaggate herstel.

“Dit is lekker om te sien hoe gemeenskappe hande vat om self vir hulle ’n beter toekoms te skep. Ons wil nie hê ons gesinne moet op onveilige paaie ry nie en dit is ook vir ons belangrik dat die slaggate op die regte manier en met die regte produkte herstel word. Daarom het verskeie deskundiges ons ook gehelp met raad sodat AfriForum die paaie op die korrekte wyse kan herstel. Ons wil graag vir al die takke en vrywilligers dankie sê vir hulle volgehoue goeie werk en bereidwilligheid om van hierdie projek ’n sukses te maak,” sê Corné Cronjé, AfriForum se bestuurder vir Gemeenskapstrukture.

Soortgelyke plasings