|

Konstante vertragings in aanrandingsaak versaak polisieman se eksvriendin

AfriForum se privaatvervolgingseenheid was vandag in die Pretoria Streekhof waar die verhoor van Jacques Loock eindelik veronderstel was om aan te gaan. Die saak is egter weereens uitgestel nadat die beskuldigde blykbaar ’n doktersafspraak vir vandag geskeduleer het om bloedtoetse te bespreek. Alhoewel die saak vir twee agtereenvolgende dae op die rol geplaas is, is daar in sy afwesigheid aangevoer dat Loock te siek is om vandag in die hof te verskyn. Die verhoor is nou uitgestel tot 7 en 8 November.

Loock wat aangekla word van aanranding met die doel om ernstig te beseer op sy eksvriendin, Izelle Venter, in Februarie 2019, is ’n kaptein in die Valke. Die beskuldigde se eerste verskyning in die hof was op 3 Oktober 2019 en die saak is die eerste keer vir verhoor geplaas op 3 Maart 2021. Die verdediging se regspan het ook na bewering die klaagster genader en vir haar geld aangebied om die saak te skik, maar sy het geweier. Sedertdien is die saak al telkemale uitgestel waarna Venter die privaatvervolgingseenheid om bystand genader het.

Die verhoor het uiteindelik op 20 Mei 2022 begin waartydens Loock onskuldig gepleit het en die verweer geopper het dat hy op die aand van die insident te veel alkohol ingeneem het terwyl hy op medikasie was wat veroorsaak het dat sy aksies op daardie tyd onwillekeurig was.

Venter het ook tydens die vorige verskyning reeds met haar getuienis begin, maar kon ongelukkig nie vandag die geleentheid kry om dit te voltooi nie. Sy het ook vandag gesê dat sy teleurgesteld is dat die saak weereens uitgestel is en dat sy haarself reeds sielkundig voorberei het dat die saak vandag sou aangaan. Die slagoffer in hierdie saak het geweldige beserings opgedoen, sy het onder meer in Mei vanjaar getuig dat Loock haar met die kop geslaan en aan haar hare rondgetrek het.

“Hierdie tipe Stalingrad-taktiek, veroorsaak geweldige sekondêre trauma vir slagoffers wat keer op keer die trauma van die misdaad moet herleef. Dit laat hulle ook voel asof die regstelsel hulle gefaal het en dat beskuldigdes meer regte as slagoffers en die samelewing geniet. Daarom sal AfriForum se privaatvervolgingseenheid voortgaan om haar by te staan om toe te sien dat geregtigheid geskied,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Dit is onbekend of die beskuldigde steeds sy pligte as polisiebeampte uitvoer. “’n Mens sou egter wou glo dat iemand wat van ’n ernstige misdaad soos hierdie aangekla word en daarmee getaak is om geweld – veral geweld teen vrouens en kinders – hok te slaan, van sy pligte onthef sou word totdat die saak sy gang gegaan het,” sluit Natasha Venter af.

Soortgelyke plasings