|

Teenboelieveldtogspan besoek Gereformeerde Skool Dirk Postma

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 22 September die Gereformeerde Skool Dirk Postma (GSDP) in Pretoria besoek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net vir nou nie, maar ook vir die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word met die nodige kennis en vaardighede toegerus om as ’n leier in enige boelie-situasie op te tree waar afknouery plaasvind, dus om boeliebestand te wees.

“Leerders word ook geleer om tussen afknouery en konflik te onderskei. Die doel van dié praatjie is om leerders te bemagtig. Leerders is ook meer oor die gevare rakende kuberafknouery, die gebruik van sosiale media en die internet ingelig,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Hierdie teenboelieveldtog is noodsaaklik om leerders bewus te maak van wat boeliegedrag werklik is, sowel as om leerders toe te rus om dit teen te staan en te verwerk. Daar is baie keer ’n wanopvatting van wat as konflik en wat as boeliegedrag beskou word, gevolglik word eenvoudige konflik situasies nie opgelos nie omdat dit as boeliegedrag hanteer word. Boeliegedrag is onaanvaarbaar aangesien dit groot emosionele- en ontwikkelingskade tot gevolg kan hê. Dit gesê, moet ’n mens nie net op diegene wat geboelie word fokus nie, maar ook op hulle wat boelie. Beide partye roep om hulp,” sê Erik Visser, die Gereformeerde Skool Dirk Postma se hoof.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings