|

Walker Drive-buurtwag vind weldoener se gesteelde beursie terug

AfriForum se Walker Drive-buurtwag het op 20 Februarie deur ywerige pogings en samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en CityWide Security ’n gesteelde beursie teruggevind. ’n Onbekende man het na bewering dié beursie gesteel by ’n vrou wat vir hom kos gegee het in Sonic Close, Kabega. Die SAPD het die verdagte aangekeer.

Tydens ’n patrollie het een van die Walker Drive-buurtwagpatrolleerders hulp aan die SAPD aangebied wat met die verdagte op en af in Riverstoneweg geloop het. Meer patrolleerders is na die toneel ontbied om met die soektog na die gesteelde beursie te help. Die verdagte het verduidelik dat hy die beursie in ’n botterhouer gesit het en in ’n veld bo-op ’n stomwaterdrein se deksel geplaas het.

Die buurtwag se patrolleerders en ander veiligheidsrolspelers het deur die veld gestap op soek na dié deksel, maar kon niks vind nie. Die buurtwagpatrolleerders het die volgende dag hul soektog voortgesit en om 08:06 op die botterhouer met die gesteelde beursie daarin en ’n rugsak afgekom en dit dadelik aan die SAPD oorhandig.

“Dit is ’n beduidende oorwinning in die stryd teen misdaad in ons gemeenskap. Ons is diep dankbaar vir die vinnige optrede en toewyding van die patrolleerders en veiligheidsrolspelers wat by hierdie soektog betrokke was. Hul onvermoeide pogings het dit moontlik gemaak om waardevolle eiendom aan die SAPD te oorhandig om verder ondersoek in te stel,” sê Hannes Oosthuizen, leier van AfriForum se Walker Drive-buurtwag.

“Hierdie voorval is weereens ’n bewys daarvan dat AfriForum se spesialisopleiding, toerusting en samewerking met ander rolspelers uiters suksesvol is. Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan kommunikeer, maak vinnige optrede deur die buurtwag moontlik. Dit skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die gebied hok te slaan. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood te help,”  sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

Sluit vandag aan by jou plaaslike AfriForum-buurtwag. Besoek www.wordlid.co.za om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings