|

Sentraalstreek se buurtwagte neem aan nasionale patrollie deel

Die AfriForum-buurtwagte in die Sentraalstreek (KwaZulu-Natal, Noordwes en die Vrystaat), het op 14 Julie aan dié organisasie se nasionale patrollie deelgeneem.

Vier-en-veertig AfriForum-buurtwagte en 1 216 patrolleerders in 701 voertuie het aan dié patrollie deelgeneem waartydens meer as 22 294 km afgelê is. Alle voorvalle is suksesvol hanteer in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en private sekuriteitsmaatskappye.

Saam met AfriForum se buurtwagte het ander veiligheidsinstellings soos private sekuriteitsmaatskappye, mediese vennote en ander veiligheidsorganisasies ook aan die patrollie deelgeneem. Verskeie suksesse is gerapporteer, onder meer die arrestasie van ’n verdagte vir diefstal en dwelmbesit. Verder is ongeveer R10 500 se boetes vir verkeersoortredings uitgereik en hulp is by verskeie ongelukstonele verleen.

“AfriForum voer hierdie nasionale patrollies uit om sigbaarheid te verhoog, samewerking tussen verskillende rolspelers te verbeter en die veiligheid van ons gemeenskappe te verseker,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die Sentraalstreek.

“AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak en hul veiligheid te prioritiseer. Ons kan nie op die staat alleen staatmaak om ons veilig te hou nie,” sluit Renaud af.

Raak vandag nog betrokke by een van AfriForum se buurtwagte. Kontak vir Joseph Renaud by 081 217 7416.

Soortgelyke plasings