|

Kyk: AfriForum beveg vernietigende Gesondheidsversekering

Die ANC-regering probeer al geruime tyd om die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) deur te stoomroller. Verteenwoordigers van AfriForum het oor die afgelope twee weke verskeie openbare verhore in die Wes-Kaap en in Johannesburg bygewoon om kommentaar te lewer en dit onomwonde te stel dat die beoogde NGV dadelik gestaak moet word.

AfriForum het by ’n onlangse openbare verhoor vir dié wetsontwerp wat in Johannesburg gehou is, gesê dat die instelling van dié wetgewing Suid-Afrika se gesondheidsorg en ekonomie tot op sy knieë sál dwing.

Louis Boshoff, AfriForum se woordvoerder vir die NGV, het dié organisasie se voorlegging gedoen. Hierin het hy uitgebrei op die negatiewe gevolge wat die implementering van die NGV-wetsontwerp kan hê.

Louis Boshoff, AfriForum se woordvoerder vir die NGV

“Die impak van hierdie beoogde wet sal rampspoedige gevolge vir alle Suid-Afrikaners inhou. Die finansiering daarvan sal tot hemelhoë belastingkoerse lei en mediese kundiges sal die land op grootskaal verlaat om uit die staat se ystergreep op die plaaslike gesondheidsektor te ontsnap. Boonop gaan die NGV nie net miljoene Suid-Afrikaners se toegang tot mediese sorg belemmer nie, dit het ook die potensiaal om die land se ekonomie totaal te knak – ’n krisis wat ’n drastiese impak op elkeen in die land se lewe gaan hê,” sê hy.

Intussen verkoop die ANC-regering die droom van gratis gesondheidsorg aan alle Suid-Afrikaners, en selfs onwettige immigrante, by die openbare verhore aan die armste burgers van die land wat nie verstaan dat die model finansieel nie volhoubaar is nie.

Kritiek uit die privaat sektor en van mediese fondse het oor die afgelope paar maande al hoe meer geword.

Adrian Gore, uitvoerende hoof van die Discovery-groep, het verlede week by ’n geleentheid gesê die huidige gesondheidstelsel is nie volhoubaar nie en dat universele gesondheidsorg nodig is. Hy meen die voorgestelde NGV kan ’n moontlike antwoord wees, maar hy het egter benadruk dat die stelsel net in samewerking met die privaat sektor suksesvol kan wees. Die Discovery-groep se grootste bekommernis is artikel 33 van die konsepwet wat dit onmoontlik vir privaat verskaffers sal maak om dieselfde dienste as die staat te lewer. Dit meen Gore sal die einde van mediese fondse en privaat sorg beteken.

Van die kritiek wat by die openbare verhore geopper is, was gemik op die ellendige toestande by die meeste staatshospitale, die swak bestuur van staatsentiteite oor die algemeen en die geleenthede vir korrupsie wat die sentralisering van fondse vir gesondheidsorg sal skep.

AfriForum is van mening dat die regering eerder op ekonomiese groei en die opknapping van staatshospitale moet fokus.

“AfriForum beoog om die openbare verhore oor die land heen by te woon en sodoende hierdie vernietigende wetsontwerp op elke moontlike wyse teë te staan. Die burgerlike samelewing het nie net ’n reg om by hierdie verhore hul stem dik te maak nie, maar het ook ’n onbetwisbare verantwoordelikheid om in die belang van Suid-Afrikaners op te tree en die gevare van dié katastrofiese wetsontwerp te belig,” sê Boshoff.

Soortgelyke plasings