|

Kyk eerste 4 episodes van De Kleine Griet-komedie nou op AfriForumTV

De Kleine Griet, ’n splinternuwe Afrikaanse komediereeks, is op 13 April 2022 by AfriForum Teater bekendgestel en kan nou op AfriForumTV gekyk word.

Dié karaktergedrewe komediereeks speel af in die 17de eeu en vertel die storie van die fiktiewe kaptein Wim van de Vaart en sy vermakerige bemanning wat hom tydens reise op sy skip De Kleine Griet vergesel.

Kaptein Wim was as een van die mees belowende kapteins en werknemers van die VOC gereken, maar sy ambisie en onder-die-tafel-manier van dinge doen, het hom gereeld in die warm water laat beland.

’n Klomp eksentrieke karakters vergesel hom op sy reise en die avontuur begin as kaptein Wim uitvind van ’n onontdekte eiland wat net beskou word as ’n legende, ’n mite wat nie bestaan nie. Om die eiland te ontdek, sal nie net baie rykdom bring nie, maar ’n nuwe handelsroete kan van daar af gevestig word. Ongelukkig is hy nie die enigste een wat opsoek is na die eiland nie.

Volgens Luan Lauw, skrywer van die reeks, het hy gepoog om unieke karakters te skep en verskillende persoonlikhede saam op die skip te plaas wat ’n plofbare situasie kan laat plaasvind.

De Kleine Griet is ’n reeks vir die hele gesin. Dit is ’n verhaal oor hoe avontuur die karakters inhaal. Ek is baie lief vir komedie as ’n genre en dit was ’n absolute lekker proses om die reeks te verfilm. Ons het die reëls effens gebreek omdat ons met die verlede en geskiedenis spot en ons het nie noodwendig op die akkuraatheid daarvan gefokus nie,” sê Elrich Yssel, regisseur van De Kleine Griet.

“Die hele proses was fantasties. As Elrich en Luan nie aanhou skryf en regisseer nie, gaan die Suid-Afrikaanse filmbedryf armer wees,” sê Tiaan Slabbert, wat die rol van Bas Boudewijn vertolk.

Die meeste van die produksie het by die Heartfelt Arena plaasgevind en tonele is ook by Melrose-huis, die Pretoria Boeremark en die Fonteine-sirkel, wat as ’n woud dien, verfilm.

Mareli Theron, vervaardiger, sê dit is wonderlik om te sien hoe die storie op papier lewendig geword het tot iets wat nou op die skerm verskyn. “Ons het gesien hoe die karakters mense word en dit was heerlik om te sien hoe die verskillende stelle en prentjies wat mens in jou kop het, lewe kry.”

De Kleine Griet bestaan uit agt episodes en die eerste vier episodes kan reeds op AfriForumTV gestroom word. Akteurs wat in die reeks te sien is, is Charlie Bouguenon, Leán van den Bergh (die bekende akteur en regisseur Regardt van den Bergh se dogter), Tiaan Slabbert, David Steyn, JP du Plessis, Deoudoné van der Merwe en Jürgen Hellberg. Chris Chameleon maak ook ’n vinnige verskyning in die reeks.

Soortgelyke plasings