|

Laaste leier van onafhanklike Thaba’Nchu vereer met nuwe grafsteen

Kgosi Tshipinare Moroka, die laaste leier van Thaba’Nchu as ’n onafhanklike staat, is vandag vereer met die onthulling van ’n nuwe grafsteen. Dié verering kom te midde van die Barolong Boo Seleka-koninkryk se herdenking van sy dood, vandag presies 140 jaar gelede, op 10 Julie 1884. Kgosi Gaboilelwe Moroka, ’n nasaat van Kgosi Tshipinare en die huidige koninklike leier van die koninkryk het die grafsteen namens die Barolong Boo Seleka onthul. Die oprigting van die grafsteen is as ’n gesamentlike erfenisprojek in samewerking met AfriForum onderneem.

Kgosi Tshipinare Moroka was ’n inspirerende leier en ’n dapper kryger wat sy pa en voorganger, Kgosi Moroka II, se lewe in 1851 tydens die Slag van Viervoet teen die BaSotho-koninkryk, gered het. Hy was ook ’n visionêre staatshoof wat die regering en grondbesit van die Barolong Boo Seleka moderniseer het deur die grondgebied van die koninkryk te laat opmeet en titelaktes aan grondreghouers uit te reik. Kgosi Tshipinare is op ’n tragiese manier vermoor toe ’n mag van sy halfbroer, Lehulere, wat Kgosi Tshipinare se troonopvolging betwis het, ’n verrassingsaanval op Thaba’Nchu uitgevoer het. Hoewel hy die aanval vanuit sy huis dapper teengestaan het, is hy finaal vanuit die vesting gedwing en geskiet nadat die aanvallers sy huis aan die brand gesteek het. Kgosi Tshipinare het die noodsaaklikheid van vreedsame naasbestaan begryp, en in dié opsig Kgosi Moroka II se voetspore gevolg. Hy het soos wat sy voorganger in 1865 gedoen het, op 8 Augustus 1883 ’n formele vriendskapsverdrag en bondgenootskap met die Republiek van die Oranje-Vrystaat gesluit.

“’n Regverdige mens mag dalk baie probleme hê, maar die Here verlos hom van elke een. Vandag vereer ons ons voorouer Kgosi Tshipinare Moroka wat op dié dag 140 jaar gelede vermoor is. Hy was ’n regverdige man, ’n uitsonderlike en navolgenswaardige leier wat ’n gewelddadige dood gesterf het terwyl hy vir geregtigheid en waarheid gestaan het. Hy was geskenk om die Barolong Boo Seleka-volk te lei terwyl Thaba’Nchu ’n onafhanklike land was, en hy het toegewyd gelei. Ek kry soveel inspirasie van hom omdat hy soveel wysheid en versiendheid gehad het. Hy het eienskappe gehad wat uitgestaan het. Terwyl ons hom vandag herdenk en vereer, rus die verantwoordelikheid op ons skouers om die volk ’n verdere 140 jaar te neem. Mag ons nadink, onsself teregwys en bou om ons voorvaders trots te maak. Mag ons koning goed rus. Tholo, Mmina Tshipi Noto!!! Kagisho, Pula, Nala,” sê Kgosi Gaboilelwe Moroka, Kgosi van die Barolong Boo Seleka.

“Dit is vir AfriForum ’n voorreg om met die Barolong Boo Seleka saam te werk om ’n leier wat so ’n belangrike rol in die geskiedenis van hul en ons eie kultuurgemeenskap in die Oos-Vrystaat gespeel het, te vereer. Dit is waarlik ’n eer om deel te hê aan die herstel van ’n gemeenskap se waardigheid en kulturele selfbeeld. Die Afrikaner-kultuurgemeenskap herdenk Kgosi Tshipinare as ’n visionêre dienende leier van sy volk en ’n ware vriend en bondgenoot. AfriForum put inspirasie uit leiers soos Kgosi Tshipinare terwyl ons werk aan die vestiging van ’n netwerk van kultuurgemeenskappe wat mekaar kan ondersteun op die grondslag van wedersydse erkenning en respek. ’n Nuwe samelewingsorde, wat berus op gemeenskapsfederalisme, neem op grondvlak vorm aan en skep die ruimte vir kultuurgemeenskappe om saam te werk aan die toekoms wat ons wil hê vir die kinders van ons gemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

“Die onthulling van die grafsteen van een van ons historiese leiers en helde is die volgende tree in die tienjaaraftelling tot die tweede eeufees van ons aankoms in Thaba’Nchu wat, as dit Gods wil is, ons in 2033 sal vier,” sluit Kgosi Gaboilelwe af.

Soortgelyke plasings