|

Laer-suidkus-tak beteken prokureursbrief aan Ugu-distriksmunisipaliteit

AfriForum se Laer-suidkus-tak het hul regspan op 9 Desember opdrag gegee om die Ugu-distriksmunisipaliteit aan te maan om watertoevoer te herstel en te handhaaf. Dit volg nadat verskeie gemeenskappe aan die suidkus van Natal al tot drie maande lank sonder water moet klaarkom.

Die munisipaliteit skryf die langdurige watertoevoerprobleem toe aan ’n gebreekte pyp, maar hierdie verskoning is nie genoeg rede vir krane wat weke lank al droog is nie. Intussen het die AfriForum-tak ’n noodwaterpunt vir die gemeenskap by die NG Kerk Margate beskikbaar gestel.

“Dis onaanvaarbaar dat ons as belastingbetalers vir ons basiese menseregte moet baklei. Die owerhede is juis daar om die Grondwet en ons regte te beskerm en om aan ons basiese dienste te lewer,” sê Theuns Boshoff, voorsitter van die Laer-suidkus-tak.

“Munisipaliteite het die speelbal geword om kontrakteurs en kaders te verryk en basiese dienslewering is lankal nie meer die Ugu-distriksmunisipaliteit se prioriteit nie. Dit is opvallend dat daar elke Desember ’n krisis is. Dis asof die regulasies in artikel 36 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur misbruik word en daarvoor het ’n mens die ideale tyd soos Desember nodig om ’n krisis te orkestreer,” sê Eugene van Aswegen, distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

“Ons het bejaardes wat sukkel. Die ondernemings aan die suidkus is afhanklik van toerisme en tans saboteer die munisipaliteit hierdie ondernemings met swak dienslewering,” sluit Boshoff af.

AfriForum sal verdere stappe oorweeg indien die Ugu-distriksmunisipaliteit voortgaan om nie sy wetlike verpligtinge na te kom nie.

Soortgelyke plasings