| | |

AFRIFORUM VEROORDEEL KOSTER-HOFUITSPRAAK; GEMEENSKAP KEELVOL VIR VERMORSING VAN BELASTINGGELD

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) het hul skok en teleurstelling uitgespreek nadat ’n waarnemende regter in die Noordwes Hooggeregshof in Mahikeng beslis het dat die KBI die water- en rioolaanlegte in Koster en Swartruggens aan die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit moet teruggee. Boonop het die hof bevind dat Joseph Mogale, Kgetlengrivier se munisipale bestuurder, nie aan minagting van die hof skuldig is nie.

Die aanlegte word vandag om 12:00 aan die munisipaliteit oorhandig.

Volgens Carel van Heerden, voorsitter van die KBI, sal inwoners elke uitspraak appelleer. “Regter F.S. Gura se dapper stap in Desember om die gemeenskap die verantwoordelikheid te gee om die aanlegte self te kan bestuur, is tot ’n groot mate deur dié uitspraak ongedaan gemaak,” sê Van Heerden.

Van Heerden beklemtoon dat die munisipaliteit nou weer in beheer gestel word van aanlegte wat tans soos ’n goed geoliede masjien loop. “Die gemeenskap het pas gewoond geraak aan betroubare verskaffing van skoon water. Nou is hulle weer uitgelewer aan die munisipaliteit en Magalies Water, wat die uiteindelike verval van die aanlegte en die daaropvolgende waterkrisis verlede jaar veroorsaak het,”  sê Van Heerden.

Volgens Johan Kruger, hoof van Gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, is gemeenskappe  keelvol vir twyfelagtige hofuitsprake, swak administrasie en voortslepende korrupsie en vermorsing van belastinggeld. “Die staat het toegegee dat die munisipale bestuurder nie die hofbevel nagekom het nie. Die hof se uitspraak is vir ons ondeurgrondelik en stuur ’n boodskap dat munisipale amptenare skotvry van wanbestuur en openlike nalatigheid sal afkom,” sê Kruger.

Kruger voer aan dat die tyd vir gemeenskappe aangebreek het om teen ’n plunderende regering op te staan. “Gemeenskappe sal eenvoudig spontaan begin opstaan teen munisipaliteite wat belastinggeld ten koste van inwoners se basiese regte steel en vermors. Spontane belastingverset is waarskynlik die regering se voorland,”  voorspel Kruger.

Klik op hierdie skakel vir agtergrond oor die hofgeding:

Soortgelyke plasings