|

Lees jongste Forum Tydskrif nou ook aanlyn

20160418_111328

Die eerste uitgawe van AfriForum se tydskrif, Forum, vir vanjaar is nou ook aanlyn vir lede beskikbaar.

Die uitgawe is propvol aktuele inligting en nuuswaardige aktiwiteite waarby die burgerregte-organisasie die afgelope maande betrokke was.

In dié uitgawe, wat ook saam met AfriForum se 10 Jaar-gedenkuitgawe uitgebring is, fokus Kallie Kriel, uitvoerende hoof, op hoe die organisasie te midde van vandalisme en ontwrigtingswerk op universiteitskampusse, besig is om onverpoosd voort te gaan om aan die toekoms te bou. Dit word ondersteun deur artikels oor die aksies wat AfriForum en AfriForum Jeug aangepak het om Afrikaans op kampusse te behou en te bevorder en om studente te bemagtig om hulself te beskerm en te verdedig.

Daar is ook ’n insiggewende artikel oor die amptelike bekendstelling van Akademia se nuwe perseel, geboue en tegnologie wat in die lig van toenemende chaos en uitsluiting by openbare universiteite in die toekoms ’n alternatief vir hoër onderwys sal wees.

Die Forum het ook weer gefokus op die organisasie se plaasmoorde-veldtog wat ten doel het om die regering te dwing om dit tot prioriteitsmisdaad te verklaar. In die opsig is ook verdere vordering gemaak met ’n afspraak wat verkry is om op 4 Mei met lt.genl. Phahlane Kgomotso, waarnemende nasionale polisiekommissaris, te vergader om die kwessie te bespreek.

Ander artikels wat lede gerus kan lees, handel oor die stigting van AfriForum se beradingseenheid, AfriForum Trauma, wat daarop gemik is om bystand aan slagoffers te gee. Sedert die begin van die jaar was daar reeds 25 beradingsessies met slagoffers  waarvan sommige hul ervarings gedeel het. Daar is ook ’n onderhoud met die sanger en skrywer Chris Chameleon wat ’n groot ondersteuner is van die werk wat AfriForum doen. Daar is ook op Orania gefokus waar baanbrekerswerk gedoen word om van dorp tot stad te ontwikkel. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, verduidelik ook in ’n meegaande artikel hoe Vrystede deel van minderhede se oplossings vir die toekoms kan wees.

Om Forum Tydskrif aanlyn te lees, gaan na www.forumtydskrif.co.za

 

 

Soortgelyke plasings