|

Legendariese Tossie Lochner word 85 by die see

Daar is bitter min Suid-Afrikaners wat met Monitor op die Afrikaanse radiodiens grootgeword het en wat nie minstens ’n paar oggende met “Tossie Lochner, Italië” wakker geword het nie.

Dié legendariese radiostem vier vandag haar 85ste verjaarsdag in die Kaap waar sy “’n stukkie vis langs die see sal eet”.

“Op haar 85ste verjaarsdag wens ons haar ’n vreugdevolle, geseënde lewensjaar toe. Mag daar nog vele wees!”

Sy het 40 jaar, vanaf September 1969 tot 2009, in Italië gewoon. Haar laaste onderhoud op RSG was sowat twee jaar gelede.

Sy het tien jaar nadat sy in Italië gaan woon het, met insetsels vir Monitor begin. Hoewel sy ’n opgeleide spraakterapeut is en ook radiodramas gedoen het, het sy niks van joernalistiek geweet nie. “Ek het die eerste drie maande soos ’n radio-joernalis probeer praat, wat glad nie gewerk het nie. Dit is in daardie tyd dat (C.J.) Langenhoven se woorde by my ingesink het dat die na-aper nie eens ’n aap is nie, want die aap is sommer self ‘n aap,” korswel sy.

Lochner het lank in Pretoria gewoon, maar Kaap toe getrek om naby haar twee kinders te wees. Sy sê spottenderwys sy sal dit glad nie aanbeveel nie, want “die kinders wil my voorsê wat ek moet doen”.

Vra ’n mens haar hoe sy op 85 steeds so flink en op en wakker is, skryf sy dit aan ’n aktiewe lewe toe. “Ek het in my lewe baie beweeg, gimnastiek gedoen en oral gestap. Ook in Italië. Ek het die klein dorpies plat geloop en selde bus gery.”

Sy sê om te stap maak ’n mens se oë ook vir die wêreld om jou oop. “Dit was vir my fantasties om in Italië te loop en te sien hoe die seisoene een na die ander verbygaan. Jy stap nog so op ’n dag, dis erg winter en die sneeu lê nog op die berge en skielik sien jy die wilde blou viooltjies onder die ys begin kop uitsteek. Wonderlik!”

Benewens die feit dat Tossie Lochner vir baie ’n huishoudelike naam is, strek haar verhouding met AfriForum ook so ver terug soos die begin van die organisasie.

In 2003 het Solidariteit besef dat baie Suid-Afrikaanse emigrante weer na Suid-Afrika terugkeer en wou graag met hulle kontak maak. Die Maatskappy vir Immigrasie (MVI), ’n klein NWO, was toe reeds besig om die terugkerendes met advies by te staan. Die twee organisasies het hulle kragte saamgesnoer en die “Kom Huistoe-veldtog” op die been gebring.

Teen 2005 het die MVI en ’n beplande burgerlike organisasie onder Solidariteit se vleuel saamgesmelt en só is AfriForum gebore. Om met ’n nuwe organisasie die publiek se vertroue te wen en sonder ’n noemenswaardige begroting daarvan ’n huishoudelike naam te maak, verg heelwat insette en ’n bekende medewerker is onder daardie omstandighede ’n wonderlike bonus.

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, vertel graag hoe groot die vreugde én verbasing was toe sy een oggend in 2006 ’n oproep kry en ’n bekende stem hoor wat sê: “Dit is Tossie Lochner van Italië. Ek is nou in Suid-Afrika en ek wil graag permanent terugkom. Sal julle my help?”

Volgens Bailey het hulle in 2007 ’n heerlike Valentynsdag-funksie aangebied, met vertellings van Tossie oor haar lewe in Italië en haar gunsteling Italiaanse liedjies. “In 2007 staan ons piepklein personeel – wat in daardie stadium almal in Kallie (Kriel) se motor kon inpas – by die internasionale aankomssaal op die lughawe en wag met blomme en plakkate om Tossie terug te verwelkom. Dit was ’n emosionele oomblik vir ons almal! Selfs die lughawepersoneel het haar toegejuig.

“Sedertdien het die lewe met ons almal baie draaie geloop, maar altyddeur is daar boodskappe van ondersteuning van Tossie wanneer iets groot by AfriForum gebeur.

Tossie sê self: “AfriForum doen fantastiese werk en ’n mens kan byna nie glo hoe die organisasie oor die jare gegroei het nie.”

Bailey sê AfriForum het die grootste waardering vir Tossie se lewensvreugde en energie, haar liefde vir Afrikaans en haar land, en haar gawe met woorde. “Op haar 85ste verjaarsdag wens ons haar ’n vreugdevolle, geseënde lewensjaar toe. Mag daar nog vele wees!”

Soortgelyke plasings