|

Lichtenburg-tak bou voort op slaggatprojek

AfriForum se Lichtenburg-tak het van 10 tot 20 Julie ingespring en voortgegaan met dié organisasie se slaggatprojek ten einde padveiligheid in dié dorp te verbeter. Hierdie projek word deur Pine Pienaar en sy span gelei en tot op hede is ’n totaal van 117 slaggate met 160 sakkies teer opgevul. Dié tak het besluit om te fokus op Bandjiesstraat.

“Die meeste van dié slaggate is die gevolg van swak instandhouding deur die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit, oormatige reën en swaar verkeer. Ongelukke vind gereeld plaas, en skade aan motorvoertuie is ook al aangemeld,” sê Armand Viljoen, distrikskoördineerder vir Marico.

Die Lichtenburg-tak wil graag ’n verskil maak sodat inwoners die dorp se paaie met gemoedsrus kan gebruik. Daarom daag die tak sakeondernemings en gemeenskapslede uit om by die slaggatprojek betrokke te raak.

“Ons bedank graag vir Gerrie van den Berg, Burger Terblanche van Scott’s Manor-gastehuis en Bennie Snyman van G-3 makelaars wat die teer en drom SS60 bitumen geskenk het. Ons bedank ook die Noordwes Koöperasie (NWK) wat hulle snymasjien en padroller beskikbaar gestel het vir die projek,” sluit Viljoen af.

Kontak Armand Viljoen by 081 217 6568 om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings