Life Esidimeni: AfriForum eis ondersoek na die impak van kaderontplooiing en regstellende aksie


Die regerende ANC is dit aan die slagoffers van die Life Esidimeni-tragedie verskuldig om die impak van kaderontplooiing, regstellende aksie en swart bemagtiging op staatsfunksies te ondersoek. Die impak hiervan op die openbare gesondheidsektor moet in besonder ondersoek word.
AfriForum het hierdie beroep vandag in ’n skrywe aan pres. Jacob Zuma, Gwede Mantashe, die sekretaris-generaal van die ANC, en Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, gerig nadat dit aan die lig gekom het dat 94 psigiatriese pasiënte weens ontwatering, diarree, epilepsie, hartaanvalle en moontlike ander redes gesterf het.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, voer aan dat kaderontplooiing, regstellende aksie en swart bemagtiging ’n destruktiewe uitwerking op die werk van alle staatsdepartemente het.

“Die effek hiervan is dat aanstellings en kontrakte op grond van politieke verbintenisse gedoen word en dat aanstellings gedoen word sonder om op bevoegdheid en meriete ag te slaan. Swart bemagtiging is veronderstel om geleenthede vir swart mense te skep, terwyl dit in die praktyk dikwels as ’n instrument gebruik word om aanstellings op grond van politieke voorkeur te maak. Die noodwendige gevolg hiervan is dat staatsfunksies verval, wat tot nadeel van die hele land is.”
“Die regerende party moet homself afvra hoe ver hy sal gaan om hierdie destruktiewe beleid te implementeer,” sê Roets.

In 2014 is meer as 300 mense in die Boitumelong-nedersetting naby Bloemhof gehospitaliseer as gevolg van waterbesoedeling nadat die munisipale dienste ineengestort het. Drie babas is as gevolg hiervan oorlede. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) het bevind dat hierdie krisis die gevolg van regstellende aksie was.

Soortgelyke plasings