Só lyk die Wes-Kaap se vullisterreine


AfriForum het vanjaar 127 vullisterreine in al nege provinsies geoudit as deel van hul nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs vier uit nege vullisterreine wat in die Wes-Kaap geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wetno. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.
Só vergelyk die beste vullisterreine met die slegste:

Beste Persentasie Slegste Persentasie
Kraaifontein Waste Management Facility 98% Velddrif-oorlaaistasie 26%
Highlands, Malmesbury 98% Grootkop, Oudtshoorn 38%
Gordonsbaai 96% George 52%

 
Die oudit bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika meet en sluit faktore soos toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining en rehabilitasie in. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.

Volgens Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, is die meeste vullisterreine in die Wes-Kaap in ’n haglike toestand. “Meeste vullisterreine is in ’n slegte toestand wat hoofsaaklik aan wanbestuur toegeskryf kan word en in sommige dorpe beïnvloed die onhigiëniese toestande van die vullisterreine inwoners van nabygeleë woonbuurte se gesondheid.”

AfriForum-takke sal ook druk op owerhede in hul gebiede plaas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter. Dié komitees sal bestaan uit munisipaliteite en belanghebbende partye wat vullisbestuur in die betrokke dorp wil verbeter.
Die ouditverslag sal ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine op peil gebring word.

Soortgelyke plasings