|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek op verskeie velde toegetree om te verseker dat burgerregte seëvier en die regering verantwoordelik gehou word waar hulle nie hul pligte nakom nie. AfriForum se takke het ook met volhoubare aksies ’n verskil in hul onderskeie dorpe gemaak.

Ná ’n skerp styging in plaasmoorde in die tweede kwartaal van 2023 aangeteken is, het AfriForum die uitbreiding van sy veiligheidsnetwerke verder versnel.

“Hoewel die aantal aanvalle vir die eerste en tweede kwartaal min of meer dieselfde is, het moorde met 167% gestyg – van nege in die eerste kwartaal tot 24 in die tweede kwartaal,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Volgens Broodryk sal AfriForum aanhou om sy veiligheidsnetwerke uit te brei. AfriForum het reeds 168 buurt- en plaaswagstrukture en nagenoeg 11 000 opgeleide vrywilligers wat help om gemeenskappe te beveilig.

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid

AfriForum beklemtoon dat die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet) onderwys in die land ingrypend sal skaad indien dit in die huidige formaat aanvaar word en is daarom gereed om dit met litigasie teen te staan. Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, verduidelik dat teenstand teen die wetgewing noodsaaklik is omdat die wetgewing aspekte soos die reg van toegang tot moedertaalonderrig, die privaatheid van ouerbeheerliggaamlede, beperkte klasgroottes ter wille van gehalte-onderrig en die aktiewe betrokkenheid van skoolgemeenskappe deur middel van demokraties verkose ouerbeheerliggame sal vernietig.

Die jaarlikse vullisterreinoudit waar AfriForum 161 vullisterreine landswyd besoek en geoudit het se verslae vir KwaZulu-Natal (KZN) en die Wes- en Noord-Kaap is vandeesweek bekendgemaak. Die Wes-Kaap het die beste uit die drie provinsies gevaar met 14 uit die 25 terreine wat aan die nasionale standaarde voldoen. In KZN voldoen slegs een terrein aan die standaarde en in die Noord-Kaap voldoen geen van die terreine aan die nasionale standaarde nie. Wanbestuur en amptenare wat dit nie as noodsaaklik beskou om instandhouding te doen nie, is van die redes wat aangevoer word vir die vullisterreine se swak toestande.

AfriForum veroordeel die onlangse optrede deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat ’n boer naby Hennenman verlede week in hegtenis geneem het vir diefstal. Die boer het onbekende mans, wat besig was met onwettige mynaktiwiteite op sy plaas, se selfone en motorsleutels afgeneem en die polisie ontbied. Die polisie het egter nie ag geslaan op die kwessie oor die onwettige mynaktiwiteite nie, maar die boer in hegtenis geneem. Die mans het na bewering bande met Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier.

In Kempton Park het die AfriForum-tak bedlinne aan die Elim Clinic geskenk en in Delmas het AfriForum ’n skoonmaakprojek saam met Delmas Herleef en The Wild Bunch MC Revolution Chapter, ’n plaaslike motorfietsklub, aangepak.

In Lichtenburg het die AfriForum-tak 87 slaggate herstel en in Middelburg, Mpumalanga, het die AfriForum-tak die hoofgebou en dierehokke van die Dierebeskermingsvereniging oorgeverf.

Soortgelyke plasings