|

Machadodorp-tak rig waarskuwingsborde op R541-roete op

AfriForum se Machadodorp-tak het onlangs twee nuwe waarskuwingsborde op die R541-roete (ook bekend as die Skurwebergpas) opgerig om motoriste oor die pad se swak toestand op dié roete te waarsku. Dié pad, wat eNtokozweni (Machadodorp) en eManzana (Badplaas) met mekaar verbind, is beskadig weens erge grondverskuiwings en sinkgate en hou ’n gevaar vir motoriste in.

Die opvallende oranje-en-swart-waarskuwingsborde toon ’n eenvoudige, maar doeltreffende waarskuwingsboodskap. Die tak vertrou dat die borde ’n belangrike bydrae sal maak om motoriste se veiligheid op die roete te verseker aangesien die borde duidelik sigbaar is.

“Ons is toegewyd aan die veiligheid van ons gemeenskap en almal wat deur ons dorp reis. Die veiligheid van motoriste wat hierdie aanskoulike pas ry, is vir ons ’n prioriteit en daarom is bewusmaking deur hierdie waarskuwingsborde ’n belangrike wyse waarop ons ’n rol ten opsigte van verkeersveiligheid kan speel,” sê Delon Duvenhage, ondervoorsitter van AfriForum se Machadodorp-tak.

AfriForum se Machadodorp-tak is dankbaar vir die ondersteuning van die gemeenskap en hoop dat hierdie inisiatief as ’n model vir gemeenskapsbetrokkenheid elders in die land kan dien. Die tak moedig ook alle inwoners aan om bewus te wees van die padtoestande en om verantwoordelik en veilig te bestuur.

AfriForum se Machadodorp-tak nooi graag die publiek uit om deel te word van hul projekte.

Soortgelyke plasings