Malema en Ndlozi toon geen berou in hof oor beweerde aanranding nie

Die verhoor van EFF-leier Julius Malema en EFF-LP Mbuyiseni Ndlozi op klagte van aanranding op SAPS-kolonel Johannes Venter het vandag in die Randburg landdroshof hervat. Die burgerregteorganisasie AfriForum tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak op.

AfriForum het by die saak betrokke geraak nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik nie die beskuldigdes wou vervolg nie. Nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid ’n skrywe aan die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) gerig het, het die NVG wel besluit om die saak te vervolg.

Die beweerde voorval het in 2018 by Winnie Mandela se begrafnis plaasgevind, nadat die beskuldigdes se voertuig deur Venter gestop is. Die beskuldigdes het toe die voertuig verlaat en Venter na bewering aangerand. Kringtelevisie-beeldmateriaal van die insident is wyd versprei in die media. Mbuyiseni Ndlozi het vandag getuienis gelewer in die saak.

Die verdediging het vroeër ’n artikel 174 aansoek gebring na afsluiting van die staat se saak om die beskuldigdes vry te spreek op grond van onvoldoende bewyse. Hierdie aansoek is egter deur die hof geweier omdat die hof gevind het dat daar wel prima facie bewys van aanranding was waarop geantwoord moes word.

“Malema en Ndlozi se getuienis het bewys dat hulle geen berou het vir hul optrede om ’n SAPD-Kolonel in volle uniform na bewering aan te rand by Winnie Mandela se begrafnis in 2018 nie. Die SAPD se enigste rol is om die gemeenskap te beskerm en prominente politici moet aanspreeklik gehou word indien hulle nie hierdie rol respekteer nie. AfriForum sal voortgaan om vir geregtigheid in hierdie saak te staan,” sê Reiner Duvenage veldtogbeampte vir Strategie en Inhoud by AfriForum

Die verhoor is uitgestel tot 29 September 2022 vir die opstel van finale betoë waarna die hof ook uitspraak gaan lewer.

Soortgelyke plasings