|

AfriForum versoek Mogale City-munisipaliteit om watertoevoer dringend te herstel

Die AfriForum-tak in Krugersdorp het op 23 September ’n brief aan die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit gerig waarin hulle versoek dat die watertoevoer in dié dorp dringend herstel word. Gedeeltes van Krugersdorp is al meer as 20 dae sonder water. Die watertoevoer na van die resevoirs is nie voldoende nie en die watervlakke het tot so ’n mate gedaal dat daar nie meer genoeg druk is om sommige areas van water te voorsien nie. Areas wat die ergste geraak word, is Munsieville, Dan Pienaarville, Rand-En-Dal en Krugersdorp-Noord.

Die Krugersdorp-tak versoek ook dat die munisipaliteit verslae bekendmaak oor die oorsaak van die watertekort. Mogale City beweer beurtkrag veroorsaak dat daar nie genoeg watertoevoer na die resevoirs toe is nie.

Die Hoërskool Noordheuwel moes noodgedwonge sy koshuise tydelik sluit omdat daar nie water is nie en daar word ook glo oorweeg om die skool te sluit.

Die gemeenskap het tydens ’n openbare vergadering op 21 September ’n sperdatum versoek van wanneer die problees opgelos sal word. Tyron Gray, die burgemeester van die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit, kon egter nie ’n datum gee nie.

Soortgelyke plasings