|

Malmesbury-tak skenk 2 000 bottels water aan vloedgeteisterde gebied

Die AfriForum-tak in Malmesbury het die afgelope paar weke sy deel gedoen om gemeenskappe te help wat groot skade gelei het weens damwalle wat op ’n plaas in Riverlands gebars en die nabygeleë woongebied oorstroom het. Die oorstromings het die gebied se waterinfrastruktuur beskadig, wat nou toegang tot veilige drinkwater bemoeilik.

AfriForum se Malmesbury-tak het met behulp van die burgerregteorganisasie se rampbestuursentrum aan dié behoefte aandag gegee deur altesaam 2 000 bottels water aan plaaslike skole te skenk. Weens die skade aan die waterinfrastruktuur het Agri Mark ook twee 2 500-liter watertenks aan die Malmesbury-tak geskenk, wat op sy beurt dit aan die Swartland Plaaslike Munisipaliteit oorhandig het sodat die gemeenskap toegang tot skoon water het.

Riaan Muller, voorsitter van AfriForum se Malmesbury-tak, sê die munisipaliteit en plaaslike rampbestuursentrums ry daagliks 13 watertenkwaens aan om te verseker dat gemeenskappe genoegsame water het. “Die toevoeging van die twee watertenks dien as noodwaterpunte wat snags gebruik word wanneer die watertenkwaens vertrek het,” sê hy.

AfriForum se noodfonds maak dit vir sy takke moontlik om op te tree in noodgevalle soos dié waar basiese benodighede soos skoon drinkwater nie geredelik beskikbaar is nie. Muller maan egter dat die krisis nog lank nie verby is nie. “AfriForum se Malmesbury-tak sal voortgaan om hegte bande met die munisipaliteit te smee en die gemeenskap in sy uur van nood by te staan,” voeg hy by.

Kontak Muller by 072 920 2984 of besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum se Malmesbury-tak betrokke te raak of meer oor die burgerregteorganisasie te wete te kom.

Soortgelyke plasings