|

Meer as 14 leë erwe deur Vryburg-tak getem

Die AfriForum-tak in Vryburg het gedurende Mei verskeie projekte aangepak om ’n skoner, veiliger en voorspoedige omgewing vir almal te kweek. Die tak het meer as 14 leë erwe se lang gras gesny, bome op hierdie erwe gesnoei en rommel opgetel en verwyder. Die oop stuk veld langs die dorp se reservoirs is ook getem, wat beteken dat die tak altesaam 2,06 hektaar gras in Mei gesny het.

“Die oop velde en leë erwe word gereeld deur die Vryburg-tak onderhou om te keer dat misdadigers die lang gras as wegkruipplek gebruik of die leë erwe misbruik om sodoende toegang tot ander erwe te verkry,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Hoewel die Vryburg-tak weekliks werk om die dorp te verbeter, het hy ook tyd afgestaan om op 18 Mei ’n tennistoernooi vir die gemeenskap aan te bied. Altesaam 38 deelnemers vanuit verskillende dorpe het mekaar die stryd aangesê toe hulle aan hierdie AfriForum-tak se tennisdag by die Ramblers Tennis & Squash Club deelgeneem het.

Ná talle stelle se uitstekende tennis het vier individue die oorhand oor hul opponente gekry en as oorwinnaars uit die stryd getree. Kevin Smithers en Junior van Eeden is as groep 1 se algehele wenners aangewys, terwyl Reinhard van Vuuren en Yolandi Fourie as groep 2 se algehele wenners aangewys is.

Dié tennistoernooi spruit voort uit die Vryburg-tak se jaarlikse sportnaweek wat later vanjaar vir die derde keer aangebied word. 

“Dit is belangrik vir AfriForum se Vryburg-tak om terug te ploeg in die gemeenskap. Dié tennisdag was ’n groot sukses en het die gemeenskap die geleentheid gegee om hul bure beter te leer ken, te sien wat AfriForum vir die inwoners van Vryburg doen en by die tak betrokke te raak,” sê Nel.

Jy kan help om jóú omgewing te beveilig en te verbeter deur vandag nog by AfriForum betrokke te raak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings