|

Minder winkeltrollies nou in haweloses en misdadigers se besit in Durbanville

Die AfriForum-buurtwag in Durbanville het oor die afgelope agt maande 277 winkeltrollies in die omgewing gekonfiskeer. Hierdie trollies is afgevat van boemelaars en mense wat voorgee om haweloos te wees, maar dit dan vir verskeie misdade gebruik.

Volgens die buurtwag is die trollies nie net ’n hulpmiddel vir hawelose mense om hul besittings te vervoer nie, maar misdadigers gebruik dit ook om dwelms te versprei en gesteelde items weg te steek. In verskeie gevalle is opgemerk dat misdadigers dwelms in die sentrale sakekern van Durbanville deur middel van die trollies versprei. Daarbenewens word trollies gebruik om geringe misdade te pleeg, soos om items uit erwe te steel, motorvensters stukkend te slaan en veral studente te beroof. Die gesteelde items word dan tussen ander items wat uit asblikke gehaal is, in die trollies weggesteek.

Die AfriForum-buurtwag in Durbanville werk nou saam met plaaslike kleinhandelaars wat toestemming gegee het om die trollies terug te ontvang. Hierdie gesamentlike poging het tot ’n afname in die gebruik van trollies vir misdaad en verbeterde veiligheid in die gemeenskap gelei.

“Die buurtwag se toewyding en organisasie het ’n beduidende impak gemaak. Lede van die buurtwag is uiters aktief en waaksaam, wat bydra tot ’n veiliger omgewing vir almal in Durbanville. Ons is trots op wat ons tot dusver bereik het en sal aanhou om ons gemeenskap te beskerm en misdadigers te stuit,” sê Leendert Stoop, voorsitter van AfriForum se Durbanville-tak.

Die AfriForum se Durbanville-buurtwag het ’n sterk teenwoordigheid in die gemeenskap en beplan om voort te gaan met hul pogings om misdaad te bekamp en veiligheid te verseker. Hulle nooi die gemeenskap uit om by hulle aan te sluit en deel te wees van hierdie positiewe verandering.

Kontak Stoop by 074 513 6199 om by die tak se aksies betrokke te raak.

Soortgelyke plasings