|

AfriForum-tak in Klerksdorp begin met opruiming van voёlpark

Die gemeenskap in Klerksdorp, onder leiding van die plaaslike AfriForum-tak, het onlangs begin met die opruiming van die voёlpark waar die Parkrun ook plaasvind.

Op 27 April het die Laerskool Saamtrek begin om die gedeelte aan hulle kant van die park netjies te maak. Op 29 April het die AfriForum-bestuur reeds van vroeg af gewerk om gras te sny en vullis op te tel. Mense wat aan die Parkrun deelneem en die Hoërskool Wesvalia en die Hoërskool Klerksdorp se landsdiensleerders het ook kom help om vullis op te tel, terwyl lede van die Wilkoppies Tennisklub hul werkers beskikbaar gestel het om die gate in die grondpad voor die tennisbane op te vul.

Die Klerksdorp-tak beplan nog baie projekte om die algehele netheid van die park te verbeter.

“Dit moet weer die veilige spogpark wees waar families kan kom piekniek hou, maar daarvoor is die gemeenskap se betrokkenheid egter nodig en word hulle gevra om betrokke te raak om saam ons toekoms te verseker. Baie dankie aan die lede en borge wat reeds bydraes lewer, daarsonder sou ons nie in staat gewees het om enige verbeterings in Klerksdorp aan te bring nie. Ek wil besighede versoek om betrokke te raak om van Klerksdorp weer ’n pragstad te maak,”  sê Frans Roos, voorsitter van die AfriForum-tak in Klerksdorp.

“Hierdie projek is ’n belegging vir elke inwoner en toekomstige inwoner van Klerksdorp se toekoms, daarom is dit belangrik dat die gemeenskap sal opstaan en kom help met  hierdie heerlike projek,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Kontak vandag nog vir Esmari Greyling by 084 402 9683 om hande te vat en ons toekoms te verseker. Word deel van die oplossing: SMS Klerksdorp na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings